![]() |
![]() |
|||||||||||||||||
|
Swakopmund ook 13 Jaar onafhanklik Wednesday 19th of March 2003 Dertien jaar onafhanklikheid word die week gevier. In verskeie dele van die land sal daar verskillende reaksies wees soos wat die bevolking onafhanklikheid beleef. In Swakopmund is daar ook gemengde gevoelens maar die meerderheid van die inwoners met wie PLUS gesels het, was dit eens dat daar in die kusdorp baie stof tot dankbaarheid is. Onafhanklikheid het politieke bestuur van plaaslike owerheid gebring. Politieke bestuur was nie noodwendig tot die belastingbetalers se voordeel nie, maar wel tot die voordeel van die regerende party. Ten spyte van dit alles is daar duidelik gesonde, bestuur in Swakopmund. Die munisipaliteit kan met die louere in die land wegloop dat hy nog nie in die rooi was nie en dat daar deursigtige bestuur is. Daarby speel die Residents Association ook ‘n positiewe rol om voortdurend met die Raad gesprek te voer oor sake van belang vir die inwoners. Die ongelukkigheid oor die straatnamekwessie was ‘n politieke besluit wat van bo af afgedwing was en het baie ongelukkigheid veroorsaak. Maar sakeondernemings en die toerismenywerheid gaan voort om te groei en die dorp aantreklik te maak vir besoekers binne die atmosfeer wat wel deur gesonde bestuur van die Raad geskep word. Toerisme is die suurstof van die dorp en hoewel daar geld ingebring word en groei teweeggebring word, is die rolspelers in die bedryf nog nie almal op aanvaarbare standaard wat dienslewering betref nie. Pryse wat van besoekers verlang word is nie altyd in lyn met die waarde wat gebied word nie. Hier is veral die verblyfsektor diegene wat gerus kan bietjie voorraad opneem. Daarmee saam is daar ook restaurante in die dorp wat besig is om heeltemal uit die prysklas van die inwoners te beweeg en die vraag ontstaan: Is die diens wat gelewer word werklik waarde vir geld? Die toerismenywerheid het ‘n groot verantwoordelikheid om die bedryf op gesonde grondslag te laat groei. In die afgelope dertien jaar is daar in Swakopmund gebou soos seker in geen ander dorp van sy grootte in die land nie. Reuse woonstelblokke in die aantreklikste boustyle is opgerig en die wooneenhede is soms uitverkoop voordat die gebou nog klaar gebou is. Swakopmund kan met reg die argitektoniese juweel van Namibie genoem word. PLUS gee graag aan Swakopmund ‘n PLUS-punt |
|||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||





