![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Monday 24th of March 2003 Die Christene gooi bomme op die Tuin van Eden daar tussen die Tigris en die Eufraatriviere. Vroeg, in die oggendure van 20 Maart val die eerste bomme op Baghdad, hoofstad van Irak. Het die Slang toe oorgeneem na Adam en Eva se sondige vertrek uit die Paradys in hulle velkleertjies? Die wêreld sidder eintlik voor die skrikwekkende omvang van die tegnologie wat in die oorlog teen Irak tevoorskyn kan kom. Een van hierdie oorlogsmonsters is die sogenaamde mikrogolf-bom wat teen die spoed van lig trek en wat vyandelike wapensisteme oor ‘n radius van honderde meters kan uitwis. Die tenks, radar en missielsisteme kan buite werking gestel word maar die personeel wat die wapens hanteer kom ongedeerd daarvan af. Die e-bom is tot op datum die mees gesofistikeerde wapentuig wat ooit ontwikkel is en kan moontlik in die huidige Golfoorlog gelanseer word. Dit is buitendien tot dusver duidelik met die wapentuig wat daar in Irak is, is dit die mees tegnologies gevorderde militêre veldtog wat nog ooit gevoer is. Reeds in die vorige Golf-oorlog was daar bomme gelanseer wat van die mees gevorderde tegnologie op aarde was, wat selfs by die verkeerslig in Bagdad geweet het om links of regs te draai maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met wat nou beskikbaar is en dit een dekade later. Die mikrogolftegnologie is sedert die tagtigerjare ontwikkel en die militêre personeel is dit eens dat hierdie bom nie fiksie is nie maar die ware Jakob. Die golf het die vermoë om enige elektroniese apparaat binne te dring en sy sisteem te vries. Behalwe die gewone geweer, die mes of die granaat, bevat alle militêre toerusting elektroniese sisteme. ‘n Bepaalde teiken sou dus wees om die kommunikasiestelsels buite werking te stel ook al is dit in die diepste bunker gevestig. Hierdie bunkers is nie moeilik vir die golf om te tref nie want alle bunkers moet uitlate hê vir ventilasie of kommunikasie Lugverdedigingsisteme sal ook ‘n spesifieke teiken wees om te tref want as hy getref word, is hy nie meer effektief nie. Dat die mikrogolfbom (e-bom) massiewe politieke komplikasies inhou vir die toekoms is wis en seker. Omdat dit hier gaan oor toerusting wat buite werking gestel moet word en nie mense wat getref moet word nie, kan dit aan toekomstige oorlogvoering ‘n totaal ander dimensie gee. Wetenskaplikes is oortuig dat die bom in Irak gebruik sal word, maar in die stad Baghdad kan dit dan ook vernietigende effek hê op hospitale en water en kragtoevoer, sowel as op huishoudelike apparaat. In die huidige oorlog sal die geleide missiele baie deegliker ingestel wees om teikens te tref en sodoende foute te vermy wat burgerlike bevolking kan tref. GPS sal gebruik word om die missiele te lei en nie laaser wat deur wolke of rook beinvloed kan word nie. Satelliet-geleide bomme sal dus ‘n groot verskil maak aan die hele metode van oorlogvoering in die huidige Golfoorlog. Nog ‘n monster van die huidige veldtog wat nie eens in die Afghanistanoorlog gebruik is nie, is die Moab wat in die aarde kan indring en die ontploffing vind ondergronds plaas. So kan die diepste ondergrondse skuiling wel getref word. Die bom dring deur 6m konkreet of 30m grond voordat sy lading ontplof. Daar is geen twyfel dat die magte van Saddam Hussein nie opgewasse is teen die tegnologie van die VSA nie maar die gevaar vir die koalisie is om te verhoed dat onnodige burgerlikes getref word. |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





