![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Sunday 15th of May 2005 PLUS verjaar. Ja, PLUS het ‘n tiener geword. ‘n Volle dekade gelede is PLUS in Swakopmund gebore en sedertdien spreek hy sy woord onomwonde en neem aan die Groot Gesprek van die gemeenskap deel. Soms was hy wel gesien maar nie gehoor nie soos dit jongelinge betaam maar soos wat die tienerjare nader gekom het, hy hom laat hoor oor die sake van ons dag.PLUS het meer uitgesproke geword, en sy plig gedoen om die sakelui te dien deur hulle en hul produkte aan die verbruikers bekend te stel. Die sakegemeenskap het PLUS se goeie vriende geword en hierdie is die gepaste geleentheid om aan diegene opregte waardering uit te spreek vir hul getroue ondersteuning want die advertensiegeldjie het gereeld gekom en so kon PLUS sy paadjie loop en sy rol vervulMaar daar is ook gereeld ‘n mening gelug oor die ekonomiese en politieke en ander maatskaplike gebeure van die dag Hier was die stuurman Hans Feddersen, kenner van aktuele sake en die pers die drywer wat die sweep geklap het. Die juk het menigmaal pynlik die skof gedruk, maar hy het positief voortgegaan en die saak gedien. Hy het sy ideaal nagestreef om met sy kennis en insig die samelewing te dien Ja, PLUS het soms soos dit ‘n gesonde tiener betaam rebels geraak oor sotterny wat gepleeg is hetsy in die ekonomie, die onderwys, gesondheid of politiek of enige ander faset van ons samelewing. Dan het hy sy mening duidelik laat hoor.Maar lof aan verdienstelike lede en presteerders van ons gemeenskap het ook nie kortgekom nie. Nog ‘n woordjie aan die vaandeldraer van PLUS. Die finansies het nie altyd so voor die wind geloop nie. Maar Hans Feddersen het sy plig nie versuim nie. As die koerant nie betyds vir die koerier by die drukkers gereed was nie, was hy met die vrag gou-gou agter die stuur van sy motor kus-toe. Koerante afgelaai, het hy gedraai en teruggesnel Windhoek toe want daar moes die koerant op straat kom en dit was ook sy taak. Tien jaar lank!PLUS word nog steeds gratis versprei om sy adverteerders ter wille te wees. Dit beteken nie dat die leser nie waarde kry nie omdat hy nie kontant uit sy sak haal nie. Inteendeel. PLUS se ideaal is om saam met sy adverteerders nie net sake te doen nie maar ook die volwaardige Verhewe Gesprek te voer en daarom is PLUS ‘n spanpoging saam met sy adverteerders. Geluk aan PLUS en sy stuurman met sy span en mag ons nog ‘n dekade deel in die Gesprek. |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





