![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||||
|
Thursday 3rd of April 2003 Namib Sun Hotels is van plan om ‘n multimiljoen belegging in toerisme in Swakopmund te maak. ‘n Besondere openbare skakeling het Saterdag hier plaasgevind toe Pro Image se Riaan van Rooyen die ope dag vir die publiek in Swakopmund aangebied het. Die inwoners van die dorp is genooi om deel te neem aan die bespreking van die planne van die beoogde uitbreiding waar die huidige Strandhotel gesloop sal word en die hele Mole-gebied nuut ontwikkel sal word. Dit is seker die grootste ontwikkeling op die gebied van toerisme wat nog in die dorp of elders plaasgevind het. Die publiek het insae verkry in die beplande strukture en kon vryelik hul mening daaroor lug en ook bydraes lewer om die ontwikkeling lewensvatbaar vir die omgewing sowel as die gemeenskap te maak. Hierdie optrede van die ontwikkelaars kan ‘n groot deel bydra tot die sukses van die onderneming want die inwoners wat daarmee moet saamleef het die geleentheid gekry om hul mening uit te spreek en daar is deeglik van kennis geneem deur Pro Image, die forma belas met die openbare skakeling van die projek Die ontwikkeling het ten doel om die Molegebied se potensiaal vir die eerste keer in die geskiedenis werklik tot die voordeel van die inwoners aan te wend. Dit sal die bate van die oseaan waaroor die dorp beskik werklik benut in ‘n kompleks waarop die dorp kan trots wees. Namib Sun Hotels, die ontwikkelaar, het met die ope dag-aanbieding probeer om so wyd as moontlik gesprek te voer met alle belanghebbendes om sodoende ‘n ontwikkeling daar te stel wat in die algemene smaak van die bevolking sal val. Die bekende ou Strandhotel sal in die proses moet plek maak vir die ultra-moderne struktuur wat sal verrys en hopelik aan die omgewing aangepas sal wees. Ook sal strate in die omgewing noodgedwonge ook moet verander en die bekende gesig van die huidige Mole sal in die proses verdwyn. |
|||||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||||





