Natuurskatte van die Namib

Thursday 17th of April 2003
Petra Hamman

Rossing DOEN weer. Die naam het al sinoniem geraak met ontwikkeling van die gemeenskap in Namibie. Van onderwys en vaardigheidsontwikkeling tot die bewaring van die natuurskatte van die land, Rossing se hand word daar gesien. Die afgelope week het Rossing weer ‘n groep belangstellendes uitge-nooi om op sy gereelde omgewingstogte ‘n toer na Namibie se eie Ramsar site in Walvisbaai, die Woestyn Navorsing en Opleidingsentrum by Gobabeb sowel as die historiese skuilings van die geoloë Henno Martin en Hermann Korn in die Kuisebrivier mee te maak.

Die toergroepie het bestaan uit Etta Coetzee van die Rossing Foundation se biblioteke, Gunther Hullsmann, ingenieur van die munisipaliteit Swakopmund, Elke Erb van die Kameelplaas en natuurkenner,Martin Keibeb en Justus Uiseb amptenare van Rossing, Rainer Schneeweiss en Johan Coetzee van die bestuurskader van Rossing sowel as Petra Hamman van PLUS. Die toer is georganiseer en gelei deur Pieter Mostert, beroemde natuurbewaarder en kenner van Namibie. Die genooide gaste van Rossing was duidelik in goeie hande waar Pieter Mostert aan die stuur van sake was. Die roete het van Walvisbaai

gegaan na Rooibank in die Kuiseb waar die waterverspreiding van die rivier verduidelik is. Daarvandaan is die gemeenskap van die Topnaars en JP Brand hulle skool in die Kuiseb besoek. Interessante gesprekke is met die personeel van die skool gevoer en hulle besondere omstandighede is aan die besoekers verduidelik

Die namiddag het die groep by Gobabeb aangekom waar ‘n nuwe wêreld vir hulle oopgegaan het toe die gidse en natuurkenners Olavi en Snake die besoekers op ‘n staptoer in die Kuiseb geneem het en hulle die skerpioene met hul infrarooilig laat sien het. Hier word navorsing op die woestynlewe gedoen en die skerpioene sowel as die valdeur-spinnekop is van die woestynlewe waaraan die besoekers blootgestel was. Na die avontuurlike stap in die rivier om die skerpioene te sien, was die besoekers verras met ‘n lesing oor die sterre en het hulle ook die geleentheid gehad om deur die teleskoop die sterre te bekyk.

Die volgende dag is verdere staptoere onderneem in die Kuiseb om die plantelewe en omgewing te leer ken. Die dag het die besoekers kennis gemaak met die unieke werk van die sentrum en die uitstekende geleenthede wat dit bied vir navoersing. Etlike doktorale skripsies is al hier gedoen in samewerking met universiteite en in die besondere biblioteek pryk vele van die kosbare publikasies.

Die volgende oggend het die groep verder suid beweeg om die mees suidelike verspreiding van die Welwitschia te besoek.

Hier is daar kosbare inligting oor die unieke plante aan die besoekers verskaf veral deur die natuurkenner Pieter Mostert sowel as Elke Erb.

Hierdie insae in die lewe van die gebied het by die besoekers groot byval gevind en het gelei tot interessante bespreking

‘n Kort besoekie aan Mirabib met sy kampeerplekke in die rotsformasie was ook ‘n eenmalige ervaring en vir die inwoner van die land net maar weer ‘n heerlike bevestiging dat ons in ‘n land vol verrassings lewe.

Op die pad terug na Swakopmund was daar ook weer gelentheid om die Welwitschias in die omgewing te besigtig.‘n Groepie reisigers in die interessante land Namibie het deur Rossing se toedoen die geleentheid gehad om met ander oë na die omgewing te kyk en miskien sal die ideaal van kommunikasie om die bewusmaking van ons natuur by die mense van die land nuwe gedagtes wek en mense inspireer om elkeen volgens sy vermoë ‘n bydrae te maak om ons pragtige interessante omgewing te bewaar.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia