Arkaden Kaffee maak deure oop

Friday 3rd of February 2006
Petra Hamman

Arkaden Kaffee in Swakopmund het die week sy deure oopgemaak en dis reeds duidelik dat hier ‘n gesogte kuierplekkie gaan ontstaan. Frank Puma en Beate Haak het hier ‘n spyskaart wat ‘n verskil gaan maak aan die aanbieding in Swakopmund. Heerlike groente en vrugtedrankies word meesterlik deur Frank voorberei en dis sommer pure gesondheid om so ‘n drankie van vrugte of groente te geniet.

Hierdie is die ideale geleentheid vir Moeder om haar jong spruite uit te neem en op ‘n drankie wat heeltemal anders te trakteer. Dis aantreklik voorberei en sal beslis daarvoor sorg dat die jonges ook hulmaats hierheen lok.

Vir die meer gevorderde klante is hier ook aangename ligte ontbyt en middagete met ‘n spyskaart wat anders is as die gewone en beslis bedoel is om gesonde kos aan te bied en vir die etes word ook die eie brood gebak met die eie besondere resep.

Vir die namiddagkuiertjie is hier smullekker gebak met geurige koffie en tee.

Hier is reeds op die eerste dag ‘n gesellige atmosfeer en gretige klante begin die tafels beset om die aange-name nuwe omgewing te geniet. Buite is daar nog heelwat bouwerk van die Kriessontwikkeling aan die gang en dis opwindend om jou voor te stel hoe drasties die gesig van die ou bekende hoofstraat hier op die hoek waar die verkeer ‘n negentig grade draai maak Walvisbaai toe , gaan verander. Arkaden Kaffee gaan hier die juweel in die vernuwing wees.

In die moderne Swakopmund sal die kuieratmosfeer hopelik behoue kan bly as die beplanning daarin slaag om in die argitektuur en aanbieding die oue, die historiese en die nuwe kunstig met mekaar kan versoen. ‘n Besondere atmosfeer wat nie materialisties oordonder word nie sal altyd salwing vir die uitgeputte besoeker bly.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia