My Heimat - My Lappieskombers

Saturday 25th of February 2006
Petra Hamman

Ons wye en droewe land le uitgestrek onder die suidersterre. Maar ons wat hier woon, ons koester elke verre hoekie met al sy mooi. Ons maak ons graag toe met ons lappieskombers. My bondel lappies wat ek aanmekaar werk is so groot dat party van die tafel afval, maar die mooi sal ons nie misloop nie.

Ons Namibwoestyn met sy duine van Sossusvlei in die suide tot ver in alle windrigtings laat jou verstaan hoe wyd die Heer se genade is. Daar is lewe in die woestyn, die Kaokoland en die mieliedriehoek waar goue mielielande by Otavi, Grootfontein ‘n lewende oes inbring.

Van ligene tot magtige gemsbokke , renosters , olifante en die welwitschia. Dit is alles in ons lappiekas. Kamele kan jy oor ons duine ry. Die ongetemde wildeperde van die Suide is ook daar met hulle geheimsinnige verhaal

Maar die nuwe tyd het ook die vierwiel-motorfiets na ons duine gebring. Die jonges van gees verkies dit terwyl die dromers wieg op die kameel se rug. Skakel gerus die kameelplaas en bespreek jou droomrit op die "drommedaris" se rug.

Behalwe die mielieplase is daar baie ander plase ook waar daar groot verskeidenheid van bedryf is. Bees, karakoelskape, bokke, wild, alles is daar en met deernis ingewerk in ons lappiekombers

Maar jy kan ook die krokodilplaas gaan besoek en ‘n lekker happie daar geniet.

‘n Lappie rotstekeninge van die oerinwoners is ook daar. Die Brandberg troon hoog bo die landskap uit en dis die tuiste van die "Witvrou" die beroemde erfenis van die vroee mense

Ons mense het ywerige hande. Van ruwe houtsneebeelde tot die fynste geweefde wilde sy is daar. Die Kalahari Wildsilk Co is die skeppers van die fyn produk.

Matte van karakoelwol is ons kleur-juweeltjie in ons lappieskombers. Menige tuiste in verre lande word deur ons matte verfraai.

Ons Heimat vertoon met trots ons skeppende hande se werk. Omaruru-dorpie is die tuiste van vele kreatiewe mense. Hier is ons kunsmekka maar ons moet ook die skeppende hande van mooie Hentiesbaai nie weglaat nie

Ons lappies is nie net mooie hande wat vir die oog ‘n genot is nie. Die vleiskunstenaars boei jou met hul biltong-erfenis maar die eksotiese verwerking van vleis in allerlei soorte wors en geregte is eenmalig

Maar ook die soet smulgoedjies is nie-weglaatbare lappies. Van sjokolade-vervaardiging (ja, jy’s reg.. in Omaruru) tot die fynste gebak en onvergeetlike brode, dit alles is daar

Die tegnologie is ook by ons en hier aan die Weskus of in die hoofstad of elders is die nodige beskikbaar (bietjie moeilike name vir al die dinge, maar hulle is hier) Hierdie lappie laat sommer my gare knoop by die aanmekaarwerk

Maar ons dwaal ook graag ver terug in die verlede. Ons wye land is ook deurweek met bloed van vorige geslagte en beendere rus hier. Ons museums hou die herinneringe van wat was vir ons in pand.

Langs ons Seekus van die Dood, Skelettkueste, Skeleton coast, le vele skeepswrakke wat ontelbare verhale kan vertel van menslike durf, lyding, sukses en neerlaag. Die Dunedin Star noord van Rocky Point is die stil getuie van mensedrama vreemd aan ons tyd.

Ons mense-kaleidoskoop is ‘n lappies-kombers op sy eie. Amptelik woon hier elf verskillende kulture saam binne ons grense. ‘n Ryk erfenis! Dis van karos tot lappieskombers. Ons donkiekar op die pad laat jou verval in nostalgiese bui en dan ry die Mercedes te vinnig

Ons land verwelkom graag besoekers en hulle word gehuisves in verblyfplekke, "lodges", versprei oor die ganse land, een meer uniek as die ander.

Ons mooi land, so hard soos kameeldoringhout. Hier groet ons maar baie lappies het nog van die tafel afgeval!

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia