Węreld-Dag vir Vroue: Manne, julle moet opsy staan!

Friday 10th of March 2006
Petra Hamman

Manne, julle moet opsystaan, opsystaan dat Patricia die queen-maker kan verbygaan. Dis 8 Maart en hierdie dag is dan nou die amptelike Dag van die Vrou.

Die Vrou, Patricia de Lille het ‘n week gelede met haar party die Onafhanklike Demokrate uit die SA verkiesing getree as die Queen – maker. Sy hou die politieke troewe in haar handjies. Die ANC, kou naels, die DA kou naels want met wie gaan sy gemene saak maak? Met wie gaan sy saamspan om ‘n meerderheid te verseker?

Maar sy stel nie belang in al die politieke vryers nie. Sy is die queen, sy laat sommer die wind ook waai in die Kaap

Voor die verkiesing het sy reeds vir die media laat verstaan sy sal sommer ‘n R10,000 weddenskap aangaan dat haar party die magsbalans in die metro sou hou. Niemand wou haar glo nie. En nou?

Nee, sy stel net belang in ‘n veelparty-regering en in geen ander alliansie nie.

‘n Skitterende stukkie politieke ontwikkeling in die nuwe bedeling. Die stelsel van ons stem almal hartstogtelik vir ons eie ras en te hel met vernuftige regering het sy hier bietjie tot orde geroep.

Laat die kiesers ‘n slag deelneem aan hul eie regering. Laat ‘n deelnemende demokrasie begin ontwikkel. In hierdie tyd van menseregte is dit seker net gepas dat die regte van alle burgers en alle belastingbetalers in aanmerking geneem word en dat daar iemand is wat begin om korte mette te maak met die sieklike stelsel van rassistiese regering.

Op hierdie Dag van die Vrou, wil vroue haar geluk wens met haar insig en hopelik word daar ‘n begin gemaak met ‘n nuwe bedeling waar regering dalk vorentoe volgens kundigheid en kennis kan geskied in plaas daarvan dat sekere mense net weens hulle biologiese voorkoms regeer.

SA! Namibie! Hoed af vir Patricia de Lille!

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia