16 Jaar van Onafhanklikheid

Monday 20th of March 2006
Petra Hamman

Sestien jaar onafhanklikheid. Wat het ons nou eintlik om vir die wereld daarbuite te vertoon? Waar was daar vooruitgang? Wat het die manne wat nou so bloedig geveg het vir die onfhanklikheid wat hulle met trots kan vertoon?

Nee, rassisme en rerugverlang na die wit bedeling hoef nie rondgeslinger te word nie. Ja daar is ‘n meer oop gemeenskap. Die krete van Vryheid, Gelykheid en Nasiebou het weergalm en nou? Waar is Vryheid, waar is Gelykheid en hoe lyk die nasie wat gebou is? Namibiese kultuur. Hoe lyk dit? Roof, verkragting, moord, vrouemokery, kindermishandeling, onsedelikheid, inbraak en geldverduisering van miljoene. Die karakterskets van die onafhanklike nasie sal ‘n riller wees en die skrywer van die skets sal seker die Nobelprys vir literatuur wen!

Afgesien van die volk se karakter en hul bogemiddelde begaafdheid om groot somme geld te versamel wat eintlik aan ander mense en die regering behoort, laat die volk ook baie rampe oor ons pad kom.

Die armoede heers meer intens as voorheen want alle armes kan nie amptenare word nie. Vir die droogte kan ons nie iemand skuld gee nie maar dat daar vele mensgemaakte rampe oor ons kom van owerheidskant af is nie te betwis nie

Terwyl lustig onafhanklkheid gevier word, sterf nege mense op Walvisbaai as gevolg van onder andere die waternood wat veroorsaak is deur swak instandhouding. Meer as 200 is in die hospitaal opgeneem.

Die grootste vloedramp in die geskiedenis tref Mariental voorskrifte van kundiges op die gebied is nie nagekom nie. Nog ‘n rampkomitee soos in Walvisbaai. Skade aan mens en goedere is onberekenbaar en haas onherstelbaar

Dis Vrouedag 8 Maart. Die stryd om geslagsgegronde geweld te bestry woed voort. Ja, die grondwet waarborg gelyke regte aan alle burgers ongeag hul geslag maar die geweld teen vroue heers ongebreidel voort. Vryheid, Gelykheid? Waar is dit na sestien jaar onafhanklikheid?

Arbeidsoproer heers voort, net meer intens. Die geskille, stakings en demonstrasies word niks minder nie en hou ‘n groot gevaar in vir belegging in die land. Dit stimuleer ook werkloosheid geweldig. Geen vooruitsig bestaan om werkloosheid die hoof te bied nie.

Blatante swak bestuur, onbekwaamheid en korrupsie, politieke aanstellings in poste waar grondige kennis verlang word en nie politiek nie, dis alles faktore wt die lugdiens al anderhalf dekade striem Miljoene dollar van die belastingbetaler word verorber en geen verbetering tree in nie.

‘n Nuttelose weermag verorber ook miljoene terwyl dit geen doel dien nie. Intussen stort onderwys inmekaar en verkeer in die grootste krisis in die geskiedenis. Daar is nie geld nie!

Die koste om ondernemings in staatsbesit en staatsinstelings aan die gang te hou, beloop jaarliks meer as eenmiljard dollar Die afgelope jare is wel ‘n groeikoers van tussen 2% en 3% bereik maar om die beroemde visie 2030 te bereik sa meer as 12% nodig wees. Skryf gerus die Visie af.

Om te probeer red uit die verval is dit nodig om die landbousektor effektief te ondersteun en politiek daaruit te weer. Dis te se as die land wil vorentoe beweeg. Oor die afgrond glip is nou baie maklik

Nog ‘n lewensbelangrike sector is toerisme. Maar dis ook ‘n mensgemaakte ramp. Oorde is verslons en die juweel Etosha gee ernstige begrafnishoesies. Toeriste kla ernstig oor die diens en die sorg van die diee is ook nie meer na wense nie. Selfs karkasse le in Watergate.

Nog ‘n mensgemaakte ramp is die MVK waar die miljoene sommer soos stokkielekkers verdwyn. Die N$30 miljoen is nog soek en nou soek die nasie wer na N$27 miljoen. ODC se N$100 miljoen is ook nog soek. Gerugte wil dit so he dat daar miskien Apartments by de Waterfront gekoop is vir dese en gene??

Avid is ook ‘n model vir ‘n mensgemaakte ramp. Maar dit lyk asof geld hier te lande tog roep om rampe

Nog ‘n ramp wat le en loer is die kragtoevoer. Ook ‘n mensgemaakte ramp. Die ooreenkoms met SA om 60% krag te lewer het ook gesneuwel in die Eskom-ineenstorting (mensgemaakte ramp) Self het Namibie net die Kunene, Van Eck en Paratus om hom uit die moeras te sleep. Wat het van die Kudu-gasveld geword? Nog ‘n mensgemaakte ramp?

Die ramp-inventaris kan sommer nog lank word.Geseende Independence vieringe vir die volk. Mag die wyn lekker smaak!

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia