Swakopmund se Koffie-Roete

Saturday 1st of April 2006
Petra Hamman

Village Café, gewilde koffiewinkel in Swakopmund is bedrywig, veral as dit ‘n langnaweek is en die binnelandse gaste kom kuier.

Kom gerus binne by Village Café en sien dadelik vriendelike gasvrye gesiggies van die personeel wat gereed is om jou te bedien

"Life is much too important to be taken seriously" Die treffende woorde van Oscar Wilde, gee ook atmosfeer aan die gesellige koffiekuiertjie wat jy die volgende halfuurtjie gaan geniet. Dalk het dit ook te doen met die personeel se lewensfilosofie. Wie weet?

‘n Woelige langnaweek is pas agter die rug en hier in Swakop se eie-eie "sjebeen" was elke sitplek soggens beset en gaste het ook die buite-sitplekke opgesoek. So ‘n sitplek het ook ‘n storietjie van sy eie. Hierdie spesiale kuierplekkie was in die goeie dae van die vorige eeu die sakehart van die dorp. Binnekort sal die eerste haarkappersalon van die dorp, hier waar Rosa Vogt vroue mooigemaak het in die vorige eeu, ook deel van Swakop se "sjebeen" wees.

En hier bedien die vriendelike kelnerinne vandag flink hulle gaste wat elke beskikbare stoel volsit. Dit lag en gesels vrolik hier in Village Café en af en toe kraai die hoenderhaan daar teen die muur uit volle bors van pure plesier vir die gaste.

Landi en Andra is die twee flukse dogters van Johan en Leana wat hierdie koffiehaltetjie tot stand gebring het. Hulle is deel van die personeel en so bring elkeen sy kant om hier wanneer elke stoel beset is, vir hul gaste se gerief te sorg.

Die gaste geniet beslis hul besoekie hier en as die hoederhaan gesellig daar teen die muur kraai, is hulle sommer nog ‘n keer verseker dat hulle teenwoordigheid hier waardeer word.

Swakop is mos kuierplek en visplek. Ja dis nou as jy gelukkig is om die ou grote daar aan die lyn te kry. Hierdie laaste paar weke was die hengelaars blykbaar gelukkig want by die kuierplekke het dit om kabeljoue en galjoene gegaan.

En so het elke kuierplekkie sy eie bietjie lekkerte om aan te bied. Dis of die koffieresep of die fyn gebak wat saam met die koffie hand aan hand gaan. So twee, drie deure oos van Village Café is daar weer Café Treff……ja, eintlik Treffpunkt want hier tref ou vriende mekaar vir ‘n lekker gesels-vertel koffietjie met kaaskoek of een van die ander lekkertes.

Maar bietjie weggesteek, in die nuwe deurloop is die verrassing! Arkaden Kaffee! Soek hom gerus op want, sien, hier is die allerlekkerste drankies so tussen die koffie koek deur beskikbaar. Heerlike groentedrankie of vars vrugtedrankie is net ‘n avontuur. Selfs die kinders kan daarmee verlei word om die nodige vitamines in te kry. Hierdie gesondheidsdrankie is skoon lekkerte. More kan jy weer terugkom vir die koffie, want sien, dis ook ‘n moet.

Kuier lekker in Swakopmund.
Foto:

Van ‘n Bad het ‘n buite-sitplek geword

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia