Aangrypende Verhaal

Thursday 22nd of May 2003
Petra Hamman

‘n Aangrypende stukkie Namibiese geskiedenis het weer herleef toe ‘n groepie genooide gaste van Rössing onlangs op ‘n bewaringstog die skuilplekke van die bekende geoloë Henno Martin en Hermann Korn in die Kuiseb en op Niedersachsen besoek het

Die twee manne se verhaal is wel geboekstaaf maar dis te betwyfel of dit algemeen bekend is watter opoffering hulle gebring het om eerstens in hul vakgebied, Geologie, in die Naukluft navorsing te doen en tweedens om ‘n Wêreldoorlog te ontvlug wat teen hul oortuiginge ingedruis het.

Die geniale Hermann Korn sou in Duitsland vergete gewees het as sy vriend en kollega Henno Martin wat saam met hom die vlugtelingskap in die Namib beleef het, nie die gebeure in die publikasie, "Wenn es Kieg gibt, gehen wir in die Wüste" verewig het nie. Oor Hermann Korn self het onlangs die publikasie "Zwiegespräch in der Wüste" verskyn waarin daar ‘n kort lewenskets is deur Peter v. Egan-Krieger en Korn self sy ervaringe in die skuilings in briefvorm weergee.

Die wetenskaplike gegewens wat opgeteken was, is sedertdien deur Henno Martin as verouderd verklaar en daar sou dus nie ‘n verwerking daarvan plaasvind nie. Die bydrae van die twee manne op die gebied van watergeologie mag nie onderskat word nie

Maar die toegewyde wetenskaplike, musikus en skilder se grepie lewe wat wel geskets is, stem tot nadenke.

Hermann en Henno het op 7 Augustus 1935 uit Duitsland vertrek aan boord van die Usambara van die Woermann- Linie. Op 8 September 1935 kom hulle in Walvisbaai aan. Hul avontuur begin toe hulle die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund aandurf met ‘n voertuig wat nie opgewasse was nie en hulle val dus vas. Eers op 13 September kom hulle in Swakopmund aan en durf die pad na Windhoek aan.

Hulle vertrek na die Naukluft, 200 km suid vir hul navorsing en albei is gelukkig en opgewonde oor die nuwe ervaring.

"Eine Landschaft wie in Träumen" skryf Hermann sy indrukke na Duitsland. Die navorsing daar duur voort en albei is gelukkig met hulle bevindinge. In die tyd het Hermann aan malaria gely maar hy skryf dit gaan tog beter. Hulle het reeds ‘n vermoede dat oorlog nie vermy gaan word nie en albei is bekommerd veral oor wat dit vir Europa sou beteken. Hulle navorsingswerk sou dan ook in die politieke atmosfeer in Duitsland in gedrang kom. Die politieke waarde van die gebied vir Duitsland kon hul werk benadeel.

Dit het reeds duidelik geword dat die twee bannelinge nie veilig na Duitsland sou kon terugkeer in geval van oorlog nie. Hulle navorsing kon ook nie voortgesit word nie. Die eensaamheit het ook sy tol begin eis. Maar hulle sit egter hul werk as watergeoloë voort.

Albei die manne is bekend as heftige anti-Nazi en hulle weet nie met watter opposisie hulle sal moet rekening hou nie. Talle Duitsers is al ge-interneer as volksvyande en teen 1940 oorweeg Hermann die gedagte sterk om te vlug. Henno weifel maar teen Mei 1940 begin hul tog na die Kuiseb-canyon. Hulle het met twee voertuie vertrek, ‘n bakkie en ‘n Chevroletmotor. Karpfenkliff sou hul eerste skuilplek wees en daar kom hulle einde Mei 1940 aan.

Hulle was goed voorberei met voorrade en sou selfs by die watergat ‘n groentetuin aanlê vir die nodige vitamine.

Die geologiese werk het voortgegaan en hulle het soveel material versamel dat dit albei se droom was om uiteindelik ‘n universiteit te vind waar hulle dit later kon verwerk.

Destydse Suidwes-Afrika het ‘n groot tekort gehad aan water geoloë maar hulle was tog bevrees dat hulle tenspyte daarvan ge-interneer kon word.

By die Karpfenkliff bly hulle tot einde Februarie 1941. Hulle verskuif na ‘n nuwe skuilplek op die plaas Niedersachsen waar hulle uit klip ‘n skuiling met vertrekke bou. Selfs die motor is daar gehuisves. Einde Oktober 1941 verskuif hulle na Affenloch wat dan hul laaste skuilplek sou wees.

Die daaglikse lewe van die manne was hard en beslis nie idillies nie. Die eensaamheid het sy tol ge-eis en hulle het wesentlik hulself in swygsaamheid versteek.

Henno het gewoonlik vroeg gaan slaap maar die dromer , kunstenaar Hermann het nog lank sy pyp sit en rook en musiek gemaak.

Vir die Suid-Afrikaanse owerhede het die twee manne se verdwyning hulle sterk onder verdenking gebring as Nazi-spioene en die polisie was dus die hele tyd op hul spoor. Dit was juis die vermoede dat die polisie hulle skuilplek kan ontdek wat hulle na Affenloch laat verskuif het

Teen die einde van Junie 1942 het Herman se gesondheidstoestand wesentlik versleg as gevolg van beriberi en het Henno besluit om hom Windhoek toe te neem vir behandeling. Henno is terug na sy skuilplek en Dr Eggers wat Hermann behandel het , het hom dan ook orreed om die woestynavontuur op te gee. Hulle is wel deur die owerhede aangekeer , maar hulle is nie ge-interneer nie. Hermann het swaar gely aan depressie en het lang periodes nie van hom laat hoor nie Hulle het hul booraktiwiteite vir water op plase weer hervat en was baie suksesvol.

Hermann het nie maklik weer by die daaglikse lewe met sy roetine aangepas nie. Veral by volmaan het hy senuweeagtig geword en dan het hy sy kwas of die viool in die hand geneem om sy gevoel uit te druk. In sy eensaamheid het hy vir Anneliese Scherz, ‘n getroude vrou leer ken. Hy beskryf haar as: "die Seele meines Hauses" Henno en Herman het selfs verblyf by haar gehuur. Hulle situasie was nog nie heeltemal uitgeklaar nie en die papieroorlog met die owerhede het voortgegaan.. Sewe maande later word hulle egter deur die regering as geoloë in die staatsdiens aangestel. Intussen gaan die innerlike stryd vir Hermann voort oor Anneliese. Sy moes ‘n einde aan die verbintenis maak en dit laat Hermann weer vergetelheid in alkohol soek. Hy beskryf die tyd as "eine tiefe, bittere und aussichtslose Liebe".

Henno en Hermann het in die loop van hul boorwerk weer opdragte ver in die woeste wêreld gehad en in die tyd het Hermann ook sy innerlike menswees probeer deurgrond.

Sy verwante het al minder van hom gehoor en sy gesondheid het hom weer in die steek gelaat. En sy en Henno se paaie het geskei. Hermann het begin dink daaraan om na Duitsland terug te keer en Anneliese het hom daarby aangespoor.

Die vrou by wie hy verblyf gehuur het, het al meer bekommerd oor hom geraak wanneer hy ure lank net viool gespeel het. In die tyd het hy ook ‘n aangrypende portretstudie van sy suster Katharina gemaak soos hy haar sewe jaar gelede laas gesien het en aan die kant skryf hy daarby "Seele geht ins Dunkle" en onderteken dit as Ferdinand, die naam wat sy vir hom gebruik het.

Vrydag 9 Augustus 1946 het hy gaan inkopies doen en vriende ontmoet wat hy vir die middernag vir koffie genooi het.. Dit was drie dae voor volmaan. Net voor middernag het hy met die motor gery, doelloos êrens heen. Hy het in die rigting van Gammams gery en het afgedraai op die treinspoor. Hy het teen hoë spoed gery en op die brug beheer verloor en die motor het die brug afgestort.

Hermann se lewelose liggaam is in die motor gevind. Henno kon eers ‘n week later in kennis gestel word en toe was sy vriend reeds begrawe

Hermann, geniale geoloog, kunstenaar is na sy stormagtige lewe in die Windhoekse begraafplaas te ruste gelê.

Henno het ‘n rooi marmerklip in die Kuiseb gaan soek om op sy graf te plaas. Hy het in Suidwes-Afrika bly woon en is later in 1965 aan die Universiteit van Goettingen as professor aangestel Hy is op 7 Januarie 1998 oorlede in die ouderdom van 88 jaar.

Dit is ‘n werklike belewenis om die boeke van die twee geniale vriende, geoloë te lees en met nuwe gewaarwording die Kuisebrivier sowel as die gasteplaas Niedersachsen te besoek om ‘n kykie te kry in die lewe van die manne.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia