![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Saturday 17th of June 2006 N P Van Wyk Louw, Afrikaanse digter, die Goethe van Afrikaans, se honderdste geboortedag is die week herdenk. Dit is ‘n waardevolle en historiese dag vir die Afrikaanse literatuur Menige leser en student van die digkuns het in hulle loopbaan kennis gemaak met Raka, Germanicus, Dias en vele ander. Sy digbundels kan sekerlik nie uitgeput raak nie want die beste en skitterendste juwele is vir die Afrikaanse leser gebied. Louw het die taal op wereldvlak beoefen. Nooit was hy versiemaker nie. Hy was kunstenaar, filosoof en denker vir die volk. Sy werke oor kultuur en wereldsiening het vir sy Afrikaanse leser ‘n wye wereld oopge-maak. Ja die ontwikkeling en voort-bestaan van die taal wat op so ‘n wonderlike wyse hier aan die suidpunt van Afrika ontstaan het, was vir hom lewenstaak. Maar hy kon die debat van die Afrikanersaak internasionaal voer. Hy kon die Afrikaner laat deelneem aan die wereldgesprek en sy werk het gesag afgedwing in die Dietse taalmilieu. Van 1950 tot 1958 was hy professor in Afrikaans aan die univer-siteit van Amsterdam Hy was op aller-lei maniere met die taal wat hy liefgehad het besig. Hy was die vernuwende digter, die dramaturg en skrywer oor die bestaansreg van Afri-kaans en die Afrikanervolk in Afrika. Hy was ook dosent in opvoedkunde en die bouer van Afrikaans as weten-skapstaal. Daarom kan die rekenaar ook vandag Afrikaans praat. Hy het ‘n baie sagteplek gehad vir die Afrikatale en het hulle voortbestaan bepleit. Reeds in die vyftigerjare skrywe hy talle essays wat ‘n sterk invloed op die politiek uitoefen. Sy gedagte wat hy wou tuisbring is "voortbestaan in geregtigheid" vir almal. Verder het hy sterk gevoel oor die opvoeding van ‘n kind in sy moedertaal. Hy het dit so beskou dat geestelike ontwikkeling by die jongmens in sy eie taal moet geskied. Dit was vir hom die universele reg van elke mens. Na 1958 is Louw na Wits universiteit as professor in Afrikaans. Louw was die ewige optimis en het volle vertroue in sy mense gehad om die toekoms van die taal te verseker. Pessimisme was vir ‘n onhoudbare goedkoop oplossing vir probleme, ‘n weghardloop van pro-bleme omdat jy te lui is om streng te dink. In ‘n essay oor die taal skryf hy dat ons moet onthou ons taal is ‘n waardevolle besit wat altyd die moeite werd is om voor te stry. Alle gebruikers van taal kan daartoe bydra, nie deur te veg nie, maar om die taal kreatief te gebruik Tans in die politieke roes en dekadensie is dit mode om Afrikaans af te skaf of in diskrediet te bring. Dis eintlik ‘n minagting van die gebruiker van die taal en skending van sy fundamentele regte en vir diegene wat in die land ‘n toekoms wil bou, sal moet begin om te wil en saam met wil sal hulle moet dink en nie oppervlakkige nul uitweg volg nie. Laat Afrikaanssprekendes en diegene wat die literatuur nog intellektueel hoog skat, die week gerus ‘n gedagte wy aan die kosbare skat van kennis wat N P Van Wyk Louw vir ons agtergelaat het. Een ding is seker: Ons het ook ons Goethe. |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





