Besoek aan Montenegro

Saturday 24th of June 2006
Petra Hamman

Heerlike sonskyn, hemelblou Adriatiese see en die stad Kotor aan die voet van die berg… dit is Montenegro. Die piepklein staatjie in die voormalige kommunistiese Joego-Slawiese staat met die legendariese maarskalk Josip Broz Tito aan die stuur, het verlede week ‘n referendum gehou om te bepaal of hy onafhanklik word en van Serbie wegbreek of nie.

Met ‘n knap meerderheid het die Eerste Minister Milo Djukanovic en sy Demokratiese Party van Sosialiste die oorwinning behaal en die staatjie met sy 650,000 inwoners soek onfhanklikheid weg van Serbie en lidmaatskap van die EU. In die hoofstad Podgorica is daar vrolik gejuig en gevier om die nuwe vryheid te ontvang.

Montenegro, die Swart Berg, was een van die ses republieke in die Joego-Slawiese federasie. Daar word vertel dat Tito op ‘n keer sou gese het: Hoe hou jy ‘n land met sewe grense, 6 republieke, 5 nasies, 4 tale , 3 kerke, 2 skrifte, een party en geen geld bymekaar?

Sedert die Tweede Wereldoorlog was Joego-Slawie dus saamgebind in ‘n baie onaanvaarbare bedeling. Maar 1990/91 kom die bloedige wegbreekaksie van Kroasie onder Tudjman en die dekade wat volg is daar dood en verwoesting gesaai. Die gruweldade by Racak, Sarajewo Srebnica en Vukovar waar etniese suiwering die kreet geword het, het weereens die geskiedenis van geweld wat die Balkanlande gekenmerk het, na vore gebring. Die slagting in Kosowo, ‘n provinsie van Serbie en Albanie wat gegaan het oor groter Serbie het die wereld laat asem ophou. Dis dus nou baie moontlik dat Montenegro se sukses met die verkiesing nou Kosowo ook kan motiveer om sy eie koers te gaan.

Slowenie, Bosnie, Kroasie en Macedonie het reeds sedert die oorlog in die negentiger jare hul eie koers gegaan. Nou bly in werklikheid net Serbie oor van Tito se Joego-Slawie en Slowenie en Kroasie, nou ook Montenegro en dalk Kosowo is vinnig op pad om hul eie heil uit te werk in onafhanklikheid.

Tydens die oorlog het Montenegro wel aan die kant van Milosovic gestaan, wat in Den Haag sou teregstaan op aanklag van oorlogsmisdaad Milosovic is in aanhouding oorlede en sedertdien weier Serbie se Belgradoregering om genl. Ratko Mladic wat ook gesoek word weens oorlogsmisdaad.uit te lewer.

Voorheen was Montenegro ‘n onafhanklike koninkryk onder koning Nicola maar na die Eerste Wereldoorlog is hy van die kaart gevee en ingesluit by die Joego-Slawie van die tyd. Hulle het hul verset en ‘n bloedige sewe jaar van guerilla-oorlog het gevolg. Na die Tweede Wereldoorlog word hulle deel van Tito se Joego-Slawie, ‘n kommunistiese staat.

In gesprek met Dragan Mracevic van die stad Herceg Novi waar hy ‘n spog pension besit, het hy die nuwe moontlikhede vir toerisme in sy land geskets. Hy vertel van sy besondere spyskaart wat konsentreer op ‘n groot verskeidenheid vars groente en vrugte en min vleis. Hy vertel van die bekoring van die baai Kotor, die groen van die land en hoe sy land in die vyftiende eeu die naam Montenegro gekry het, die geheimnisvolle Swartberg. Hy skink die voortreflike rooiwyn van sy land. Hy sak terug in sy stoel en vertel van 12 jaar wat hy voorberei het en gewag het maar die gaste wou dit nie waag in die oorloggeteisterde landjie tussen Bosnie-Herzegowina nie. Hy vertel van Ivo Andric hul Nobelpryswenner vir letterkunde, sy groot armoede en sy armoedige huisie. Met ‘n skerp skelwoord verwys hy na Milosovic aan wie hulle dit te danke het dat hulle byna verhonger het.

Sy gedagte is reeds in Europa. In 2000 het die regering reeds die Dinar afgeskaf en die Mark het in sy plek gekom. Maar nou het hulle die Euro en die onafhanklikheid kom al nader

Dragan vertel ook van hul pragtige kasteel waar koning Nicola van 1878 tot 1918 gewoon het. Dit was dan ook hulle enigste werklike heerser. Die lughawens in Podgorica en Tivat word tans herbou en dan is hulle gereed om gaste te ontvang en hulle kan die landskap en skoonheid van die klein bergagtige staatjie geniet.

Die onafhanklikheid van Herzegowina is baie aktueel. Die dwingende vraag: Waar gaan Europa heen, is nou op die tafel en in Wenen is daar tans ‘n vergadering aan die gang om vas te stel hoe nou gemaak om die eenheid in Europa op die spoor te hou. Veral nadat die Franse en die Nederlanders verlede jaar in verkiesings die grondwet verwerp het. Wat is die toekoms van ‘n verenigde Europa?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia