Jeugrewolusie van Soweto - 30 Jaar later

Saturday 24th of June 2006
Petra Hamman

Dertig jaar. 16 Junie 1976. Die jeugrewolusie in Soweto werp eindelik die juk van apartheid af. Hierdie jeugdag is pas herdenk en wil die geboortedag van die nuwe SA genoem word. Die gebeure het ook Namibia wat onder die mandaatskap van SA was, se toekoms bepaal.

Die ikoon Mandela se woorde was Nooit, nooit en nooit sal in hierdie mooi land , een weer die ander onderdruk of oorheers nie.

Dit is ‘n groot dag vir die swart bevolking van die land want hulle sou voortaan die beheer oor die land oorneem en ad infinitum sal daar hierdie dag gejuig word. Goed so.

Beheer en regeer sou egter ook kennis, integriteit en verantwoordelikheid vereis. Om die uiteenlopende kulturele pole in die land te versoen, is nie eintlik moontlik nie en enige dwang of geweld sou nie die doel bereik nie. En om die populere woord DEMO-KRASIE dag en nag te kraai om die Westerse lande wat die rekenings voortaan moet betaal gelukkig te hou, kan ook nie slaag nie. Om die woord ook ritmies kwyt te raak op al die skenkerskonferensies van die ryk lande, sal ook nie die ding doen nie.

Die nuwe SA en Namibie is nou vry en transformasie is die towerwoord. Almal is besig met transformasie.

Die jeug van die 1976 rewolusie en hulle kinders staar nou die vestiging van ‘n nuwe bedeling met ‘n magtige morele orde in die gesig. Hierdie orde sal dan ons gesinne opbou, verhoudinge in die reenbooglandverstewig en verewig. Dit sal bydra tot ‘n florerende ekonomiese groei, tot verdraag-saamheid en die bekamping van armoede.

SA en Namibie is nou vry en kan elke jaar op die dag die vryheid met vreugdevure vier.Maar die twee lande sal nou moet begin werk daaraan om hul mondigwording te vier. Dit is waar die toets vir verantwoordelikheid en kundigheid en ware vryheid geslaag moet word.

Dit is die vereistes wat ook aan die jeug gestel word om hulself na die beste van hul vermoe met al hul gawes en talente aan te bied om vas te stel wat hulle vir die beswil van die hele gemeenskap en die land kan aanbied.

Hierdie vryheid word egter nie aan die ganse jeug van die volk gegun nie. Sekere jeugdiges word vanwee hul biologiese eienskappe nie die vryheid gegun om hul beste kundigheid en talente aan die land te bied nie. Nou moet hulle die land verlaat en in ander lande hul kundigheid gaan aanbied.

Met hierdie unieke dag en die viering van dertig jaar se vryheid en selfstandigheid sou dit ‘n gulde geleentheid wees vir die volk om voorraad op te neem waarvoor hulle eintlik staan. Is dit ‘n prioriteit vir die regeerders om vir al die burgers veiligheid en lewe te verseker? Is dit ‘n saak van eer vir die regeerders om te sorg dat al die kinders van die volk ‘n deeglike opvoeding kry? Word daar genoegsaam aandag gegee aan ‘n gesonde beeld van die nasie? Of word die volk verteer deur misdaad, drankmisbruik, moord en verslaafdheid? Watter woorde kan die jeug gebruik om hulle ouers en opvoeders en regeerders te beskryf?

Namibie was die laaste dae feitlik omgekeer deur diegene wat veg vir die reg om drank te verkoop op ongebreidelde wyse want dis die sterkste ekonomiese aktiwiteit en handelsartikel. Dis die groot werkgewer en versorger van die volk? Waar is die vervaardigers? Waar is die ontwerpers? Waar is die produ-sente? Waar is die dienslewering? Waar is die opbouers van die ekonomie?

Waar is die vryheid en die DEMO-KRASIE?

Kom laat ons sing, laat ons die lied sing van die AU, die vereniging en vryheid van AFRIKA

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia