![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Friday 28th of February 2003 “Dit is ‘n grap.” “Afrikaners behoort eerder by die hoofstroom in te skakel.” Dit was die kommentaar van twee Afrikaanssprekende dosente van UNAM (University of Namibia) toe hulle deur koerante gevra is om kommentaar te lewer op Monitor Aksiegroep se navraag by die betrokke Minister oor watter prosedure gevolg moet word as die Afrikaners (Blankes) aansoek wil doen om ook ‘n Tradisionele Owerheid te hê.
Nou ja, as dit ‘n grap is, dan is die Koningin van Brittanje ook ‘n grap. Byna al die lande in die wêreld het vroeër ‘n vorm van erflike leierskap of monargieë gehad. In die Verenigde Koningkryk speel die monargie, met die huidige Koningin aan die hoof, nog ‘n belangike rol in nasionale aangeleenthede. Hierdie rol, alhoewel hoogstens simbolies en seremonieël van aard, is nie polities of administratief nie. Die “House of Lords” kan ook nog beskou word as ‘n oorblyfsel van die Britte se “Tradisionele Owerheid”.
Die rewolusies in die onderskeie Oos-Europese state het aanleiding gegee dat tradisionele regerings heeltemal geëlimineer is en vervang is met ander vorms van regering. In Wes-Europa, soos die Verenigde Koninkryk, Spanje, Holland, Swede, Noorweë en andere, is die essensiële aard van tradisionele regering vervang deur demokratiese sisteme alhoewel die elementêre elemente van die instelling behoue gebly het.
Interessant is dit ook om daarop te let dat toe Brittanje Afrika gekoloniseer het, hulle in die meeste gevalle die tradisionele instellings in een of ander vorm behou het, maar die begrip “Koning” laat verval het. Slegs Brittanje kon ‘n “Koning” hê! Frankryk en Portugal het weer probeer ontslae raak van die stelsels.
Met die onafhanklikwording van Afrika was die grootste probleme van die kant van die behoudende (customary) gemeenskap en die instellings van tradisionele regering, in die nadraai van demokrasie teenwoordig, in lande soos Ghana, Namibië, Zimbabwe, Botswana, Uganda en Suid-Afrika.
In die konstitusie van Ghana word die instelling van tradisionele leierskap erken en daar word sowel op streeks- as nasionale vlak, voorsiening gemaak vir tradisionele leierskap. Tradisionele leiers het ‘n rol te speel in aspekte soos ontwikkeling alhoewel hulle verbied word om aktief aan partypolitiek deel te neem.
In Zimbabwe, kort na onafhanklikheid (1980), het Mugabe se regering probeer ontslae raak van ‘n wetlike dualisme deur die tradisionele owerhede af te takel en te probeer om in die plek daarvan ‘n enkele politieke verenigde “non-tribal” nasie te bou. Tradisionele leiers is gestroop van hulle jurisdiese funksies om slegs simboliese, kultuerele skynhoofde (figureheads) te word.
Mugabe het duidelik sy hand oorspeel en hy moes dit in 1993 weer regstel. Vandag maak Zimbabwe se konstitusie voorsiening vir Nasionale en Provinsiale “Houses of Chiefs”. Die “National Council of Chiefs” is ook geregtig om tien van sy lede aan te wys as deel van die 150 lede van die Nasionale Vergadering van Zimbabwe. Tradisionele leiers is ook verteenwoordig in plattelandse distriksrade. Tradisionele leiers kwalifiseer ook om vir die parlement te staan op partylyste.
Oor Namibië sal ons graag meer volledig by ‘n volgende geleentheid wil skrywe – moontlik eers nadat ons ‘n antwoord van die Minister terug ontvang het. Interessant is egter die poging van Zimbabwe om eers ‘n “non’tribal” nasie te probeer vestig en toe verplig was om terug te krabbel. Onlangs het dr. Zephania Kameeta, die Eerste Minister, mnr. Theo-
Ben Gurirab en die President in Namibië ernstig gewaarsku teen “tribalism”. “Tribalism” wat in Afrikaans vertaal word met “stamwese, stamstelsel of stamorganisasie”, is soos seks. Dit is Godgegewe en mooi as dit reg gebruik word, maar soos verkragting as dit misbuik word. Laat ons maar hoop dat Namibië se leiers na die “verkragting” komponent van stamwese verwys het.
Botswana se konstitusie maak voorsiening vir ‘n “House of Chiefs” wat ‘n adviesliggaam is vir hulle Nasionale Vergadering en Uitvoerende Gesag. Hulle beskik nie oor wetgewende gesag nie maar moet geraadpleeg word oor sekere wetsontwerpe. Verder dien van hulle ook op sekere landrade.
Die 1966 konstitusie van Uganda het konings en koninkryke afgeskaf. Twintig jaar later nadat President Yowen Museveni oorgeneem het, het hy die stelsel van tradisionele leiers herstel, maar hulle weerhou van politieke mag of ‘n politieke rol. Artikel 246 van Uganda se konstitusie bepaal dat die instelling van tradisionele leiers of kulturele leiers, in enige plek van Uganda mag bestaan in lyn met die kultuur, gewoontes, tradisies, wense en aspirasies van die mense op wie dit van toepassing is. Daar is egter die voorwaarde dat dit nie enige regte van enige persoon, volgens die konstitusie, mag aantas nie.
Internasionale ooreenkomste sowel as streeksooreekomste wat te doen het met aangeleenthede of betrekking het op tradisionele leierskap en instellings is ‘n deel van die raamwerk wat tradisionele leierskap reguleer.
Tien jaar na die nuwe bedeling (1994) spook die Republiek van Suid-Afrika nog steeds om finale reëlings te tref. Daaroor dan ook ‘n volgende keer meer.
Laat my hierdie eerste aflewering afsluit met die blanke Namibiese professor wat gesuggereer het, dat dit eintlik ‘n bietjie minderwaardig vir die Afrikaners gaan wees om nou ook te gaan rondskarrel tussen die tradisionele owerhede. Een van die belangrikste aanklagte teen apartheid was dat die Blanke geglo het dat hy meerderwaardig (superior) is. Nou dat ons wil bewys dat ons ook ‘n deel van Afrika is, en net soveel regte het as enigiemand anders, is dit ook verkeerd!? Wat is dan reg?
(By ‘n volgende keer meer oor ons navraag by die Minister)
back |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





