![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Saturday 15th of July 2006 Ja, Karibib, ons eie Egoli, plek van goud. Maar die strate is nie die strate van jaspis nie. Die prentjie van die hoofstraat en die klankie van die hoofstraat is miskien ‘n kosbare aandenking van Afrika vir die toeris om saam te neem want na sy reis deur Karibib gaan hy dalk nie so maklik weer die kuier aanpak nie Maar Karibib het sy prestasie tot Afrika se wording bygebra. Die ligging van die dorp so amper halfpad tussen Swakopmund en Windhoek was in die pioniersdae baie waardevol. Vir die perde en ossewavervoer was dit ‘n gerieflike oornagplek en vername gastehuise soos Hotel Roesemann, Hotel Rubien, Kaiserhof en Hotel zum gruenen Kranz het hul deure oopge-maak en die gaste ontvang Die Handelshuise C Boediker & Co, Damara und Namaqua Handels-gesellschaft, G Ahrens & Co en Erhardt & Schulz het lewendige handel gedryf. Teen 1909 was daar reeds 500 inwoners in die dorp. Gerieflike woonhuise verskyn en die dorpie weerspieel ‘n lewendige gees. Die firma E Häl-bich was as eerste onderneming reeds teen 1900 aan die gang. Roesemann en Kronewitter volg en die bekende Redeckerfamilie vestig hulle ook daar en saam met Hälbichs bou hulle waens vir die transport. Buite die dorp ontstaan plase en water word van die Hälbichs se bron verskaf tot later ook die Kaiserbrunnen geboor word. Water was beskikbaar en vir die snelgroeiende inwoners was daar wel ordelik gesorg vir water.1905 word Karibib Bezirksamt en in 1909 word kragtens "Kaiserliche Verordnung" van die Goewerneur van Deutsch-Suedwest-afrika die eerste "Buergerlichen Gemeinde" gestig. Karibib is ‘n dorp met ‘n "dorpsraad" en Eduard Hälbich is die eerste burgemeester. ‘n Volle eeu het Karibib sy plek met waardigheid volgestaan en sy rol in die geskiedenis vertolk. ‘n Spoorweg met indrukwekkende stasie, skole en gesondheidsklinieke pryk in die aanvallige klein stadjie. Marmer word ontdek en verwerk. Daar is lewe en vooruitgang en elkeen trek die voordeel van die gesonde bestuur wat die eenvoudige bestuur vestig as dorpsraad. Ook die sielesorg van die inwoners het nie vergete gebly nie en die Christelike kerke neem verantwoordelikheid vir hul gemeenskap. Hier aan die soom van die magtige Namib kan die handjievol inwoners van hierdie kosbare mooi stadjie vanjaar sy geskiedenis van ‘n eeu herdenk. Maar riool en drek en stank sal hom op sy feesdag begroet. Afrikatyd het hom ingehaal. |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





