![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Saturday 22nd of July 2006 ‘n Man verskyn vandag in die hof in Windhoek omdat hy 31 Januarie verlede jaar die sesjarige Rachel Hamatundu op barbaarse wyse vermoor het in Swakopmund. Die land met die modelgrondwet in Afrika wat deur almal geloof was vir sy voorbeeld en sommer die blou-oog baba van die internasionale wereld genoem is, het hier sy kleure gewys. Die wrede verkragting van kinders is volop gerapporteer in die dagblaaie. Gruwelike korrupsie is aan die orde van die dag. Die mense gaan straat toe om te protesteer en kommissies word aangewys om sake te ondersoek maar die verslae versamel erens stof. Miljoene dollars is betrokke by gevalle soos die maatskaplike voorsorgfonds, die ODC waar in totaal na raming N$130 miljoen skoonveld verdwyn het. Die nuwe president Pohamba verklaar oorlog teen korrupsie. ‘n Eenheid om dit te bestry word in die lewe geroep en daar word gewoel met die stryd teen korrupsie Daar word vinger in die lug ook oorlog verklaar teen drankmisbruik wat al die euwels veroorsaak. ‘n Paar honderd sjebeens betoog dae lank teen die vervolging van ongelisensieerde sjebeens. Kamp sommer in die regeringstuine uit en slag ‘n bees voor die Parlement. Die leiers maak groot lawaai oor al die sondes en euwels waarin die volk versink en die pers moet net skryf om voor te bly oor al die planne wat nou die ellendes sal bekamp. Die leiers tree op maar die gevegte bly maar gevegte oor ras, armoede, ongelykheid, ekonomie en die regstellende aksie. Ons praat baie oor die gruwelike geweldsmisdaad. Maar wat eintlik nodig is in die land is ‘n diepgaande besef van die diep gewortelde kwaad wat heers onder die mense ten spyte van ‘n redelike positiewe gevoel. Daar is ‘n verdraagsaamheid teenoor die misdadiger Ons het pas die Zuma-sage in SA agter die rug. Die misdaad waarvan hy aangekla is, is een van die afskuwelikste. Dis ‘n seksmisdaad maar daar is ‘n houding van ag, almal doen dit, hoekom nie hy nie? Hy het sy duisende jeugdige fans en hulle soek hom vir hul volgende president in SA. In die land is misdaad, moord, roof en geweld in ieder geval op so ‘n geweldige skaal dat dit al begin deel van die kultuur word. Die verskoning is dat misdaad oor die wereld is Trek ons die sirkel ‘n bietjie nouer en kyk ons na veral diegene wat veronderstel is om wel met geldende morele waardes nog opgevoed te wees. Dis nou die jong geslag ouers wat jong kinders op skool het. Sal hulle dalk die laaste wees in ons gemeenskap vir wie die dinge nog waarde het? Of is die vervagende gewete so ‘n sterk krag dat slegs "menseregte" nog oorbly. Ek kan wat ek wil waar ek wil met wie ek wil wanneer ek wil hoe ek wil. Dit is die alfa en die omega, die begin en die einde Sal die vroue van ons gemeenskap nie hierdie vernietigende verval raaksien nie. Sal hulle nie die uitdaging van die verval die hoof bied nie? Selfs ons regspleging waaraan goed en kwaad nog in ‘n mate gemeet kan word,dan nie in sy storting teen die afgrond af vir ons vroue ‘n rooi lig van gevaar wees nie? Sal die vroue – moeders nie tot stilstand kom en hul kinders se waardes ‘n slag grondig evalueer nie? Dit werk nie om skouerophalend bloot te deklameer : hulle maak so, hoekom kan ek nie, hulle kry die werk hoekom sal ek leer en my moeg maak? Is die strate jou kind se toekoms? Het klein Rachel Hamutundu tevergeefs gesterf? Of praat sy tevergeefs met kinderstemmetjie: Mammie, help!! |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





