![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Die reg van vrye Keuse en Disassosiasie Friday 11th of August 2006 Geagte Leser Meegaande skrywe is op 11 Julie 2006 in Afrikaans aan die Republikein gestuur en in Engels aan die New Era. Beide koerante het volgens hulle eie oordeel besluit om dit tot op datum nie te plaas nie. Dit is hulle volste reg. As ek wil redeneer dat elke mens oor die reg van vrye assosiasie beskik, dan beskik elke mens en ook koerant oor die reg van vrye disassosiasie. Daaroor is ‘n mens teenoor niemand ‘n verduideliking verskuldig nie, tensy jy self uit eie vrye wil verkies om dit te doen. Die Afrikaanse weergawe lees soos volg: "11 Julie 2006 Die Redakteur Die Republikein Lesersbriewe Geagte Meneer Ek verwys na ‘n rubriek van die deurwinterde politieke verslaggewer en rubriekskrywer, naamlik, mnr. Kae Matundu-Tjiparuro, in die New Era van 7 Julie 2006, onder die opskrif, "About Race Relations and Integration." Ek moet erken ek was teleurgesteld, maar tog nie moedeloos nie. Teleurgesteld dat daar nog nie groter begrip is nie, maar tog ook hoopvol dat ons vorder om mekaar beter te verstaan en te respekteer. Daarom is dit belangrik dat daar nie stilgebly sal word waar iets hinder nie, maar dat ons steeds bereid sal wees om na mekaar te luister. Basies gaan dit vir die rubriekskrywer van die New Era oor ‘rassisme", in sogenaamde eertydse blanke skole en by name W.H.S.. Interessant genoeg egter, dat op dieselfde dag, naamlik 7 Julie 2006, Die Republikein onder meer die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. John Mutorwa, (vir baie jare Minister van Basiese Onderwys), soos volg rapporteer: "Dit is betreurenswaardig en onaanvaarbaar dat 16 jaar na onafhanklikwording daar steeds mense in hierdie land is en nie net in die sportsektor nie, wat dink dat stamgebondenheid, etnisiteit, etniese oorheersing, korrupsie, nepotisme, selftoe-eiening, voortrekkery en inhaligheid die redes was waaroor die onafhanklikheidstryd gewentel het. Hulle is verkeerd. Die waarheid is dat hierdie dinge selfs leliker, meer gevaarlik, retrogressief, vernietigend en plofbaar is as wit-swart rassisme." Met die groot diversiteit in Namibië se bevolkingsamestelling bly dit basies seker die grootste hekkie wat ons moet spring. Ons het ‘n verhoudingsprobleem en dit is nie beperk tot ras en kleur nie. Ek het al dikwels gesê dat alle stelsels wat verhoudings moet reguleer se sukses al dan nie, lê in gesindhede. Daarom as gedwonge segregasie verkeerd is, is gedwonge integrasie ook verkeerd, veral as albei ‘n egoïstiese doel as uitgangspunt het. In Namibië het ons probeer om ‘n oplossing vir die probleem te kry deur ‘n voorskriftelike grondwet daar te stel. Terselfdertyd is gesê dat dit in die gees van versoening toegepas moet word. Wat egter die meeste van die tyd by ons verbygaan, is die feit dat met versoening lê die klem op verhouding, terwyl oplossing ‘n juridiese of konstitusionele benadering tot die probleem is. In effek gaan dit oor ‘n vryheid van keuse wat ‘n mens nie bedreig laat voel nie. Namibië se grondwet maak daarvoor voorsiening in veral Art. 19 en Art. 21. Laasgenoemde pertinent oor "vrye assosiasie". Dit sluit ook die reg tot vrye disassosiasie nie uit nie.Dan is daar ook nog die talle internasionale konvensies, waaronder dié oor die regte van die kind, wat hulle ook baie duidelik uitspreek oor taalgebruik. Interessant ook is dat in alle plaaslike owerhede, lede in Namibië wetlik geregtig is om die taal van hulle keuse te gebruik. Mnr. Kae Matundu-Tjiparuro lê dan ook presies sy vinger op die aspek toe hy sê, "As a parent of a child at this school (W.H.S.), I have started to doubt whether I made the right choice for my child." Die reg van vrye keuse is so oud as die mensdom self. ‘n Pragtige voorbeeld van ‘n versoenende oplossing binne in een stam of selfs familie, is die verhaal van Abram en Lot in Genesis 13 Verse 7 tot 9 lees soos volg: "Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon. Daar het toe ‘n getwis ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot s’n.
Toe sê Abram vir Lot: ‘Daar behoort nie ‘n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie. Die land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.’" Hierdie is ‘n treffende voorbeeld van hoe die geleentheid tot ‘n vrye keuse wrywing kan uitskakel tussen mense. Belangrik is egter dat daardie moontlikheid van keuses vir almal geskep word. Ek is tevrede dat dit moontlik is in Namibië deur betrokke bepalings in die grondwet die onderwyswet en die Wet op Tradisionele Owerhede. Veral laasgenoemde spel dit baie mooi uit. Die ironie van die saak is egter dat die Basters, Blankes en Bruin mense, wat hoofsaaklik Afrikaans praat, nie dieselfde voorregte van ander Tradisionele groepe het nie. In juridiese taal praat ons hier van diskriminasie omdat geen tradisionele owerhede vir hulle toegelaat word nie. Ek raak eintlik jaloers as ek lees met watter passie ons vriend Kae van New Era altyd rapporteer oor Hererogebeure. Die sogenaamde voorheen blanke sekondêre skole waar Afrikaanssprekendes nog in die meerderheid is, kan ek seker op my vingers van my een hand tel. Daarteenoor bestaan daar bykans 1400 skole waar swart leerlinge in die meerderheid is en vrylik met mekaar kommunikeer, veral in hulle eie tale. Die meerderheid van hierdie skole is wat taal betref, homogeen. Vroeg in 1999 het ek die volgende antwoord gekry van die Minister van Basiese Onderwys (Notules Vol. 32 van 1999 bladsy 327) op my vrae naamlik: "Mr. Pretorius asked the Minister of Basic Education and Culture:
(i) Are all teachers in public schools compelled to talk to each other or during meetings only in the official language, English? (ii) Are the Oshiwambo-speaking teachers in the North, for example, compelled to have their personnel meetings only in English? (iii) If so, is this in agreement with Article 3(2) of the Constitution of Namibia? (iv) If so, according to which notice, instruction or directive was it proclaimed? ANSWER: DEPUTY MINISTER OF BASIC EDUCATION AND CULTURE: On the first question: Are all teachers in public schools compelled to talk to each other during meetings only in the official language? No. However, all official documents and correspondence, including minutes of meetings must be in the official language, which is English. On the second question: Also no. The use of English is advised but not compulsory. Where staff of a school includes members who do not speak in the dominant local language, meetings should be conducted in English to ensure effective communication. The minutes of the meeting must be in the official language. The third question does not apply due to the first answers as well as the fourth question also does not apply. Thank you." Ek hoop ons kan die gesprek voortsit in die toekoms, in ‘n ernstige poging om verhoudings en begrip te verbeter. Met dank. Die uwe |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





