Politiek-Bedryf in Afrika

Sunday 17th of September 2006
Petra Hamman

Die politiekbedryf in Afrika is arga-ies en die enkele state wat roem op die demokrasie is soms uitgelewer aan geweld en misdaad en die sisteme van die demokrasie gaan mank aan korrupsie en wanbestuur

In die huidige wereld van globalisering is denke en kundigheid broodnodig vir oorlewing. Afrika roem daarop dat al sy lande onafhanklik is van koloniale oorheersing maar hy vergeet heeltemal dat morele en intellektuele onafhanklikheid die fondament van nasionale onafhanklikheid is.

Politieke korrektheid (hoe stompsinnig dit ook is) en die ewige verbleikte en muwwe rassekaart word maar altyd gespeel. Daardeur word kritiese denke en die intellektuele van die toneel afgevee en ware onafhanklikheid en dit wat daarmee saamgaan kan nooit tot stand kom nie.

In SA en Namibie sal die kultuur van die struggle en die vryheidsbewegings die weg na die ware onafhanklikheid ad infinitum beduiwel. Die massas soek brood en lig en in die wereld van globalisering is net die tegnologie en kennis en ervaring enigsins ‘n paspoort na vryheid en lewenskwaliteit.

In die arga-iese politiekbedryf is daar ‘n kiesstelsel en partypolitiek wat geen ruimte laat vir intellektuele vryheid of denke nie.

In die huidige stelsel van verkiesings is daar geen moontlikheid om iemand tot verantwoording te roep vir die fiasco’s van strukture nie. Niemand is verantwoordelik nie en almal sit en toekyk hoe die mens gesloop word van sy laaste bietjie lewenskwaliteit in plaaslike besture, onderwys, gesondheid, belasting, kortom, elke sisteem van sy lewe. Ons sing Hosanna want daar is geen witvel te bespeur in die bestuurskader nie en so al singend verswelg die moeras ons almal. Geen politikus het meer verantwoordelikheid teenoor die kieser of belastingbetaler nie. Dit is dan ook die rede waarom die burgerlike betrokkenheid by gesonde politiekbedryf verdwyn het en daarmee saam ook demokratiese debatvoering

Eindelose intriges en faksiegevegte heers oor die mag en so word SA (eens ‘, leier in Afrika) tans die hanswors van die wereld met sy Mbeki – Zuma "guttersepie" wat dalk nog die opvolging van die president moet bepaal. SA wat voorheen wereldgeskiedenis (in die positiewe sin) gemaak het met sy suksesse in die mediese veld is nou daar ook die hanswors met ‘n minister van Gesondheid wat Vigs genees met rooibeet en koffel., en op ‘n wereldbyeenkoms haar groentestalletjie aanprys.

Geld vloei tans soos waterstrome in SA en Namibie met die sogenaamde swart ekonomiese bemagtiging waar die swart elitegroepe biljoene dollars en rande in die sak kry waarmee geleenthede vir die rykdomverdeling aan die armes moet plaasvind. Elkeen van hulle moet deel in werksgeleenthede en rykdomme en armoede moet so aangespreek word onder die "voorheen benadeeldes"

Die nie-rassige samelewing wat deur die ANC en deur SWAPO geskep sou word het nooit bestaan nie en sal ook nie bestaan nie. Die lande het nie meer so baie tyd om so in ‘n swart paradys ongebonde en sorgeloos te vegeteer nie. Die sisteme brand vinnig uit en daar kan miskien gereken word op nog een dekade van ongebreidelde brasserie en dan gaan die ligte uitdoof.

Die intellektueel het ‘n ernstige plig om die omgewing te help skep waar onafhanklike denke en gesprekvoering kan gedy. Ons benodig dringend ‘n oop samelewing waarin daar debat kan aangespoor word. Die bloedlose witgesigte van die land moet ook ophou om "wat help dit tog" te teem en liewer tevoorskyn kom met denke wat ons as nasie raak. Laat ons liewer vra: Hoe kan ons help?" Die erns van ons diskoers moet drasties verhoog. Ons moet met die regering in gesprek tree voordat hulle en ons almal die afgrond af is

Wees krities, spreek jou hoorbaar uit en bou op. Ons liberale konstitusionele demokrasie moet beskerm en bevorder word. Ons moet hieroor praat Dis al redding wat daar is.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia