FIFA, die Wereldbeker en onse Etosha

Saturday 23rd of September 2006
Petra Hamman

Etosha die juweel van Namibie se toeriste-ervarings het ‘n besondere plek in die harte van die gemeenskap van die land. Aanstaande jaar 2007 is die park as amptelike natuurpark ‘n eeu oud en die geleentheid sal dan ook met die nodige waardering gevier word aanstaande jaar.

Na raming besoek nagenoeg 200,000 toeriste die wildtuin per jaar. Deur die jare is drie ruskampe daar ingerig en dis duidelik dat hulle nou deeglike opgradering nodig het. Gaste wat tans die oornagplekke besoek het ongelukkig baie rede om ontevrede te wees met die diens en gehalte as in aanmerking geneem word dat "luukse" verblyf aangebied word teen "luukse " pryse In die laaste tyd het toeriste hulle gereeld tot die pers gewend om hul geregverdigde klagtes te lug.

Maar die Namibia Wildlife Resorts, die liggaam verantwoordelik vir die instandhouding, het amptelik aange-kondig dat geld tans beskikbaar gestel is vir deeglike opgradering van die fassiliteite. Vir die eerste keer in 20 jaar ongeveer, sal die verfkwas nader getrek word en ‘n nuwe baadjie sal aangetrek word.

Dit is uiters noodsaaklik dat die geriewe in Namibie vir toeriste foutloos in orde gebring word vir die moontlikhede vir toerisme wat vir Namibie ook ‘n meevaller kan wees indien die Sokker Wereldbekertoernooi wel in 2010 in SA kan aangebied word. Die geleentheid is wel deur FIFA aan die land toegeken maar of dit werklikheid word is nog ‘n vraag. Die infrastruktuur in SA laat veel te wense oor en of die land in die kort tydjie wat oorbly, wel op stan-daard kan kom, is te betwyfel. Die imposante hoofkantoor van Fifa en die bestuur van die toernooi is manjefiek beplan maar met die bouwerk is nog nie begin nie. Stadions moet opgegradeer of nuut gebou word en dis ook nie duidelik hoe die verwagte duisende gaste na die verskillende plekke vervoer gaan word nie.

Met die hoogste misdaadsyfer in die wereld is dit ook ‘n vraag hoe sekuri-teit by die geleentheid gehandhaaf kan word.

Die owerhede het wel laat blyk dat hulle gereed is vir die uitdaging en dat dit op die "African Way" gedoen sal word. As hierdie positiewe gesindheid slaag, is daar wel goeie rede daarvoor dat Namibie sal sorg dat hulle toeristegeriewe sonder enige rimpel aan die wereld aangebied kan word. Die Afrikanatuur met sy dierelewe sal wel so ‘n aantrekkingskrag wees dat die wereldgaste die versoeking om te kom kuier nie kan weerstaan nie.

Etosha het interessante planne vir die opgradering soos by voorbeeld om aan die kampe elk ‘n tema te gee om uit te beeld en alles moontlik moet gedoen word om ‘n bewuswording van die land en sy geleenthede by die besoekers te versprei. Daarby is dit ook noodsaaklik dat die paaie aandag geniet en veral die Namib-Naukluft park wat ook reeds kan spog met ‘n eeu van bewaring sal op sy beurt ook ‘n nuwe bekendstelling moet kry. Hierdie besondere stukkie natuur van die land laat beslis ‘n blywende indruk op die gemoed van die Europeer wat aan sy groen gewoond is.

Hopelik is dit nou die tyd , nadat Etosha die land ‘n eeu getrou gedien het, om hom met die die moontlike kundigheid en materiaal ‘n spogkuierplek vir die wereld te maak.

SAFA-Huis soos hy eendag moet lyk

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia