Voortrekkers 75 jaar oud Bus vertrek na Pretoria

Saturday 30th of September 2006
Petra Hamman

Die Voortrekker-jeugbeweging is vanjaar 75 jaar oud en die geleentheid sal by die Voortrekkermonument in Pretoria met toepslike waardigheid gevier word.

Dinsdagoggend vertrek ‘n bus uit Swakopmund na Pretoria om die jongmense die einde van die maand betyds daar te bring vir die groot jeugfees wat bygewoon word deur skoolgaande jeug uit alle uithoeke van die land sowel as SA

Vir diegene wat die organisasie summier aan politiek en kleur wil skakel, kry julle feite in orde.

Die organisasie is ‘n opvoedkundige liggaam wat as  doelwit het die motivering van jongmense vir hulle pligte as landsburgers en die omgewing. Hier word leiers gevorm om met insig en kennis hulle pligte as deugsame burgers in die gemeenskap te aanvaar. Die voertaal is Afrikaans en jongmense van alle bevolkingsgroepe kan vrywillig aan die verskillende kursusse en kampe deelneem

Die Voortrekkers het drie 5meter lange repe materiaal in rooi wit en blou, die vlag se kleure ontvang. Daarop is handtekeninge van Voortrekkers, oud-lede en vriende versamel Die gedagte is om die belangstellendes van die land saam te neem na die fees. Dink net aan die kleurvolle versameling op die feesterrein waar die talle vlae van oor die hele land sal wapper.

Al die interessante gebeure van die heuglike byeenkoms sal met hulle terugkeer deur die jongmense gerapporteer word en in die pers verskyn. Die jongmense sal deur hierdie kleurvolle fees werklik geskiedenis maak. Hulle is die denkende jeug en het hulle menswees in ons tyd probeer vorm deur sterk geestelike en kulturele waardes. Hulle leef hulle eie ABC uit en kan vir menige volwas-sene reeds rigting aandui

Hul ABC staan vir Afrikanerskap, Burgerskap en Christenskap. Hulle ABC leer hulle reeds wyd dink en ondersoek. Hulle lewe in ‘n land waar verykende kulture saamleef. Dit leer hulle dat Afrikanerskap nie eksklusief ‘n wit omhulsel het nie. Die taal bind verskeie mense aan mekaar. Burgerskap is dieselfde. Hulle leer ken hul mede-burgers en daarom verwelkom hulle dit as jongmense van verskeie kulture saam met hulle die leerskool van die Voortrekkers kan deurmaak. Christen-skap skool hulle in religie en maak hulle bewus van die verskillende mede-burgers se religieuse voorkeure.

Denkende, gesonde jongmense word in die organisasie geslyp en kan net tot voordeel van die hele gemeenskap se jongmense strek

Mag die geesdriftige groep jongmense met ‘n sterk boodskap van hulle viering huis toe kom en die gedagtes vrugbaar aan mede-jeugdiges uitdra.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia