Opvoedende Onderwys

Friday 13th of June 2003
Petra Hamman

Is onderwys, veral opvoedende onderwys in ons land ‘n kosbare kleinood wat elke ouer spreekwoordelik met sy lewe sal verdedig? Of is onderwys ‘n bedreigde spesie uit ‘n vreemde bedeling in die land.

Met ‘n mengsel van humanistiese sekulêre beleid is die gemeenskap op ‘n pad geplaas waar waardes wat altyd heilig, ondebatteerbaar en kosbaar was, stelselmatig afgetakel en tot niet gemaak word

Een van die boustene van die ekonomie is ongetwyfeld die versekering dat daar ‘n voedingsbron vir goed opgeleide mense met ‘n sterk morele en etiese fondament sal wees.

‘n Land se totale vesel word op die skoolbanke geweef. Die gehalte van die onderrig wat kinders ontvang maak later die gehalte van die nasie uit.

In ons tyd het ouers kennelik handdoek ingegooi, hulle onderskat die geweldige impak van die onderswysstelsel op die kinders. Hulle verval in ‘n toestand van die water oor die dorre akker laat loop. Die land se kosbaarste besitting word deur ouers en opvoeders versmaai maar almal kla steierend oor die korrupsie, die misdaad die gebrek aan integriteit en die skreiende tekort aan vaardighei wat elke vlak van ons samelewing teister.

Dit is ‘n feit wat soos ‘n melaatse vinger uitstaan dat die skole nie jongmense wat vaardig is vir die ekonomie oplei nie. Die klein boonste intellektuele lagie word miskien nog raakgesien en aangemoedig om te studeer en professionele beroepe na te streef. Maar selfs van hierdie boonste lagie word daar ook polities geskep en jongmense nie op meriete behandel nie maar wel polities korrek. Die land sal seker nie maklik leer dat die wetenskap hom nie deur politiek en magshebbers kan laat lei nie. Dit is in werklikheid die fundamentele rede vir die armoedigheid van strukture in die gemeenskap.

Die kind self kom nooit ter sprake in die praathuise waar oor begrotings en wie nou eintlik ‘n goeie onderwyser is gestotter word nie. Net die feit dat daar in klaskamers dubbel soveel kinders sit as wat een onderwyser menslik moontlik kan hanteer, is dodelike bewys dat die saak van die kind en sy visie en toekoms geen aandag geniet nie. Daar is weinig indien wel enige geleentheid vir kinders om leerstof te belewe, om navorsing te doen en self take aan te pak wat hom ‘n aanwins vir sy leefwêreld sal maak.

Die huidige onderwysmodel is uitgedien en dien slegs die bewindhebbers en nie die kind, die wetenskap of die land nie.

Ouers sal moet besluit hoeveel lost generations ons wil grootmaak. Ouers moet besin dink daaraan om in die land ‘n onderwysontwikkelingsliggaam daar te stel om die debat oor opvoedende onderwys te voer as ons wel besluit om die stroom na die afgrond om te keer.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia