Nuwe Jaar 2007

Saturday 20th of January 2007
Petra Hamman
n Nuwe jaar 2007.  Ons is byna ‘n hele dekade in die nuwe millennium in.  Dis opvallend dat mense  moeg, seer en fyngevoelig is. Ons is anderhalf dekade in ‘n intense sosiale transformasie-proses. Ons word daagliks gekonfron-teer met veranderinge, goed of sleg,  en ons is almal veranderingsmoeg. Daarby het die veelkoppige monster van  polities korrek ook sy giftige lyf gelig en teister sy omgewing.
Daar is ‘n diep onsekerheid oor die toekoms, hier sowel as in die RSA ons buurland van wie ons sterk  afhanklik is.
Mense voel onveilig en was  nog nooit so bedreig in hul geboorteland soos nou nie.  Meer as eenmiljoen mense wat landuit is, getuig daarvan dat  die gevoel van onveiligheid nie beredder kan word nie.  Die regerings hier in Namibie sowel as RSA is nie bereid om die geweldsituasie ernstig op te neem nie
Daar is ‘n diep gevoel van verlies wanneer die morele waardes en religieuse beginsels  sowel as  die kultuurdinge wat vir mense dierbaar is, weggeneem en verander word.  As die kerk sy rol in hierdie scenario nie effektief kan vervul nie, sal mense nie ‘n ander keuse meer he as om met heftigheid en sterk emosie te reageer nie
Ons sal moet na mekaar begin luister.  Ons sal  moet praat oor die frustrasies,  vrese en futiliteit.  Ons sal geleenthede moet skep om  oor die diep dinge in ons gemoedere te praat en te besin en te bid  Ons moet besef dat alles in die gemeenskap nie net polities opgelos kan word nie.  Die land se politiekbedryf is in ieder geval so mank en  steriel, ja kortom, heeltemal nutteloos.  Die denksubstraat in die politieke debat  is totaal afwesig en modewoorde soos demokrasie,  rekonsiliasie,  Transfor-masie word soos kaf rondgestrooi.
Gesprekke is uiters noodsaaklik onder ons mense.  En dit is nie die Brandewyn,  Coke en braaivleis-gesprekke nie.  Sinvolle gespreksgroepe  (wat dit is wat die woord beteken) is nodig, broodnodig en moet nie  alewig besmet word met politieke platvloersheid nie.  En as Afrikaners of Afrikaanses met mekaar gesprek voer moet onnosele uitlatings oor wie hierdie skepsels nou eintlik is, vir gesonde oorlewing en voortbestaan nie rondgeslinger word nie.  Daar is sodanige mense in die land en hulle woon in Afrika en het die volste reg  om in hul benaming aan die kontinent  gekoppel te word.  Sal daar dan nie ‘n dag aanbreek wanneer hierdie land en langs hom RSA  gefundeerde sinvolle denke kan begryp nie?  Die kontinent sterwe by gebrek aan denke
Die belangrikste is om in ons gesprekke ook  te besin wat ons Skepper eintlik vir ons in hierdie land wil leer en se.  Ek dink hier  aan die gesprekke en samesyn van Christene en laat die veld wydoop vir ander gelowiges om volgens hulle insigte te debatteer of te gesels.
Kan die jaar 2007 dalk vir ons ‘n jaar van ontwaking en insigte en bo alles geloof word?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia