Swakara Vendusie Kopenhagen

Thursday 19th of June 2003
Plus

Die SWAKARA pelsprys het in Amerikaanse Dollar konstant gebly, maar ‘n daling van 11,5% in Namibiese Dollar getoon.

Van die aanbod van 41 291 SWAKARA pelse is 98,2 % op 12 Junie 2003 op ‘n veiling van Agra in Kopenhagen, Denemarke verkoop. ‘n Gemidelde prys van 109.56 Deense Krone (DKK) is behaal, wat ‘n daling van 13,56% verteenwoordig teenoor die DKK 128.05 wat in Desember 2002 behaal is. Die gemiddelde prys in Namibiese Dollar van N$ 135.96 toon ‘n daling van 11,5% teenoor die N$ 153.66 van die vorige veiling in Desember 2002. Die aanbod het bestaan uit 39 627 swart, 807 wit en 124 bruin pelse.

Die sterk daling van 15% van die Amerikaanse dollar teenoor die Deense Krone vanaf Desember 2002 was die hoofoorsaak van die daling in Deense Krone. Die gemiddelde prys in Desember 2002 was US$ 17.5 teenoor die US$ 17.3 van hierdie veiling. Die Amerikaanse Dollar is die geldeenheid van die pelshandel, waarin kopers hulle berekeninge maak en wat altyd ‘n effek op ons pryse sal hê. Die swak Amerikaanse Dollar het dieselfde effek op die pryse van ander pelssoorte gehad. Nerts pryse het by voorbeeld gedurende die laaste 12 maande met 25% gedaal as gevolg van die dalende US$.

Die hoogste prys van N$ 273 is betaal vir ‘n pakkie van 227 D Vlak Uitsoek pelse en is gekoop vir ‘n kliënt in Madrid, Spanje. Die grootste kopers was weereens die agente uit Engeland wat 54% van die aanbod gekoop het met Duitsland die tweede grootste koper. Kopers uit die VSA, Hong Kong en selfs Israel het aan die veiling deelgeneem.

Die goedkoper grade het teen konstante Namibiese Dollar-pryse verkoop, terwyl die duurder grade gedaal het. Kopers voer aan dat hulle die goedkoper grade van die vorige veiling vinnig van die hand gesit het en daarom weer op die goedkoper grade konsentreer, terwyl die duurder grade stadiger verkoop en hulle nog voorraad het.

Die hoeveelheid Afghaanse pelse wat in die mark is, is nog ‘n rede hoekom die SWAKARA prys laer gebly het. Van die Afghaanse pelse wat reeds meer as 12 maande in omloop is teen hoë reserwe pryse, is nou sonder reserwes aangebied en het teen baie lae pryse verkoop.

Ekonome voorspel dat die Amerikaanse Dollar teen die einde van die jaar sal herstel wat ‘n positiewe effek op die SWAKARA veilng van Desember behoort te hê.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia