Ehafo Geselligheid in Maart

Friday 9th of February 2007
Petra Hamman
Bekende Ehafo, in die volksmond die Vereniging vir gestremdes, is die   uitreikarm van die gemeenskap wat aan mense wat ondersteuning  nodig het, bystand verleen  om hulleself te help.   Op 17 Maart  om  3h00  word  in die Haus der Jugend  in Swakopmund ‘n geselligheid  aangebied  om die jaar af  te skop en mense by mekaar te  bring wat  kan baat  vind by hul omgee-aksies.
Veral mense  wat rolstoele gebruik of nodig het,  is welkom om die  byeenkoms by te woon aangesien  die  taakspan  en belangstellendes van Ehafo  inligting kan verskaf en selfs mense kan  ondersteun  om  rolstoele of ander hulpapparaat aan te skaf.
‘n Persoon  wat verbonde is aan  Chain,  sal die dag ook teenwoordig wees en berig oor die aktiwiteite van die organisasie wat ook bekend is vir hul uitreikaksies in die gemeenskap.
Ehafo is ook bekend daarvoor dat hulle met markte en ander verkopings geldinsamelings loods om geldelik in staat   te  wees om  aan die mense hulp te verleen.  In die verlede het lede wat self  ondersteuning nodig het,  ook deur middel van Ehafo se pogings, vaardighede aangeleer waardeur hulle nie net hulself gehelp het nie maar  ook saamgewerk het met  projekte om ander persone  by te staan.
Projekte in die gemeenskap soos  bewaarskole, House of Safety  en ander kinderhuise word waar moontlik gehelp.  Die kinders van ons gemeenskap is vir Ehafo ‘n  sterk prioriteit.  Daar is enkele gevalle bekend waar vroue op hul eie uitreik na kinders en dis hier waar hulle ook wil ‘n hand uitsteek
Maar met die funksie van 17 Maart, is dit belangrik dat mense  met probleme,of mense wat gestremdes ken, sal bywoon sodat  diegene wat sorg nodig het onder die aandag van Ehafo kan kom.
Vir hierdie grootse poging van mense wat omgee, doen PLUS graag ‘n beroep op die publiek om die dag opsy te sit om tyd af  te  staan aan ons medemens  met sy behoeftes.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia