Om Kinders vir die Wolwe te gooi...

Friday 16th of February 2007
Petra Hamman
Die moderne tegnologie, die elektronika is sekerlik ‘n gawe aan die mens wat sy lewenskwaliteit behoort te verhoog en  hom begelei na ‘n gesonde lewe.
So het die jong Mark Shuttelworth ‘n hele paar jaar gelede na sy fenomenale  prestasie  in die IT veld die spesifieke wens uitgespreek dat die jong geslag waardig en kundig sal opgevoed word om tot stigting en gesonde vooruitgang met die tegnologie om te gaan  Hy het aan etlike skole rekenaars geskenk en sy sukses met hulle probeer deel
Maar helaas,  nee.  Die selfoon, kom-pakskyf video en die hele uitgebreide familie van die elektroniese apparaat het  asemberowend toegeneem en die mens staan verwonderd daar.  Slegs die selfoon en al sy funksies en die  wat nog kom, het beheer oor die lewe  geneem en  veral kinders  is uitgelewer aan gebrek aan kennis voor die mag van die kleine selfoon en sy verwante.
Hierdie familie van elektroniese apparaat het al diep bresse geslaan in die delikate muurtjies van beskerming  en dissipline wat enkele ouers nog om hul ki nders se opvoeding getrek het
Stormsterkte golwe van vernietiging het reeds oor groot dele van die jeuglandskap getrek   Kinders is magteloos om die vernietiging van menswees wat veroorsaak kan word te herken.  Ouers en skole? Waar is die??
‘n Jong dogter wat veronderstel  is om die juweel van Gods skepping te  verpersoonlik is besoedel deur  die gevoellose handeling van ‘n “vriend” wat met ‘n selfoon-kamera in die hand en baie onwelriekende brawado deur sy wese ‘n  aanstootlike video van haar gemaak  en versprei het.
In die  ontmoeting tussen die kind en die  wereld met sy tegnologie woed die vraag voort:  Waar is al die ouers heen?  Het hulle sommer die opvoeding ook saamgeneem?
Skole met onderwysers, wat het toe van julle geword? “Onderwys-owerhede”  wat het toe van julle geword?  Sal  julle eendag maar die woord “opvoeding” bietjie bekyk.  Moet ons nie almal baie intens kyk na en dink oor die woord nie?  Wat van ‘n slypskool?
Kan ons nie weer ons kinders opvoed  volgens die riglyne van die Bybel nie?  Ons trap nie op die medebroers Moslems se tone nie, want sien hulle het ook hulle Koran wat hulle kan help.  Sal ons nie godsdiens in ons skole inbring nie?
Om die kinders so vir die wolwe te gooi  sonder denke en dissipline  is ‘n gruwelike skending van hul mense-regte. Dit druis ook in teen die opvoedkunde-wetenskap  wat juis geborgenheid van die kind wil voorop stel.
Die dogter wat nou deur die  onbesonne tegnologiese aksie geskend is, is uitgelewer aan gebeure buite haar wese. Die  skoolsisteem kan haar nie help nie, die regstelsel is ook heeltemal magteloos om sodanige vergrype teen ‘n mens te  verhoed of te straf, die grondwet wat glo een van die bestes  ter wereld is, kan haar nie beskerm nie.  Sy word alleen op die mark-plein gekruisig omdat  opvoeding van ‘n kind vir ons tyd heeltemal afwesig is
Morele, etiese waardes,  menswees, my naaste  eer soos die Woord ons leer, is deur die volwasse bege-leiers van ons kinders nek  omgedraai en weggesmyt.
Die land sal egter daarvoor betaal met baie pyn en verdriet.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia