Parlamentere Pitkos

Thursday 19th of June 2003
JWF (Koos) Pretorius

Moedertaal

Daar word beweer dat ‘n babatjie reeds voor geboorte vertroud raak met die klanke en uitspraak van sy moeder se taal. Taalkundiges gebruik ‘n voor-beeld van ‘n Chinese babatjie, en laat hom opgroei in ‘n Oshivambo huis. Hy gaan vlot Oshivambo praat. Probeer nou hierdie Chinese-Ovambo’tjie en sy Ovambo boetie Chinees leer en hy doen dit baie gouer as sy Ovambo boetie.

Daarom as Adjunk-Minister Iikongo byvoorbeeld in die Nasionale Vergadering sê, "You ‘kierie’ them all", bedoel hy eintlik "You killed them all". Engels is nie sy moedertaal nie.

Ietwat verrassend was dit, maar nie onlogies nie, dat mev. Rosa Nghidinwa, Adjunk-Minister van "Labour" gevra het wanneer daar dan die nodige fasiliteite vir tolkdienste in die Nasionale Vergadering sal wees, "We want to express ourselves".

Komende van die Kavango moes sy seker onwillekeurig teruggedink het aan die dae toe die Verteenwoordigende Owerheid van die Kavangos, na 1980, besluit het dat benewens Afrikaans en Engels, hulle moedertaal ook ‘n amptelike taal sou wees in die Kavango!

 

Kwaad Steek!

Niks doen versoening meer skade aan as verkeerde persepsies en valse beskuldigings nie. "SWAPO het in 13 jaar meer gedoen as wat mnr. Pretorius in 75 jaar gedoen het wat Sekondêre Skole in Namibië betref." Aan die woord in die Nasionale Vergadering was Adjunk-Minister P. Iilonga (Environment and Tourism).

Ons het ongelukkig nie vergelykende syfers van Sekondêre Skole, wat in elk geval in verskillende tipes verdeel word nie, maar hoe lyk die volgende.

In 1989 was die verhouding van leerlinge met die bevolking as persentasie uitgedruk 30,84%. In 2001 was die persentasie van 528 958 leerlinge teenoor ‘n bevolking van 1 826 854, dus 28,95% dit wil sê byna 2% MINDER! Waaroor spog Adjunk-Minister Iilonga?

Die SWAPO-regering weier om sensus opnames waar etnisiteit of ras ter sprake kom, te laat doen, maar gaan voort om verkeerde persepsies op grond van ras te skep.

Interresant vir wat dit werd is, is die volgende gegewens uit 1989-statistiek. Wat leerlinge as persentasie van hulle bevolkingsgroep betref, was die Blankes 20%, die Ovambos 31% en die Caprivi die hoogste met 45%.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia