Registrasie van Pensionarisse

Friday 16th of February 2007
Petra Hamman
Pensionarisse word vandeesmaand landswyd herregistreer en moet by bepaalde punte in hul omgewing aanmeld.  So ook in Swakopmund
Dis die gemeenskapsaal en honderde  mense staan reeds van vroeg af tou om hulle aan te meld.  Die tou is reeds meters lank en strek om die saal  padlangs  rigting hospitaal.  Dan kom daar beweging wanneer ‘n amptenaar of twee verskyn en stemmig word die skare die saal binne beduie om sitplekke in te neem.  Bietjie gestoot en gestamp maar uiteindelik is dit rustig.  Voor in die saal staan ‘n enkele  eensame rekenaartjie voor ‘n amptenaar wat vandag die skare sal prosesseer.
Die aksie verloop later stemmig en  elkeen se foto word geneem en vingerafdrukke verewig op die skerm
Die ure gaan so verby  en later begin die kussonnetjie buite steek maar die moedige  bejaardes  maak hulle ten spyte daarvan so gerieflik moontlik in die toustaanprosedure.  Die toustaan word toe tousit en enkele sambrele kom tevoorskyn.  Binne in die saal stry die enkele rekenaartjie moedig sy stryd en die burokrasie neem sy loop.
By hierdie registrasiepunt is daar  na raming seshonderd mense bedien.  So was daar elders in die dorp by ouetehuise  en andere ook registrasiepunte.  Hierdie  gebeure het  net weer bevestig dat Swakopmund werklik die aftree-oord vir die land is.  Sy mense is hier tuis, beskik oor noodsaaklike geriewe en mediese dienste.  Dis duidelik dat die bestuur van die dorp gerus maar op hul pad  in beplanning en konstruksie hul bejaarde bevolking in aanmerking kan  neem soos tot dusver die geval was.

Die registrasie van pensionarisse by stadsaal Swakopmund

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia