Afskeid van ons Jetty?

Friday 20th of June 2003
Petra Hamman

Die eerste brug tussen Europa en die Namib wil die stryd teen die see gewonne gee. Die ysterkaai in Swakopmund se struktuur gaan verander word en die seegebonde voorpunt punt sal geskei word van die res en aan die vernietiging van die golwe oorgegee word.

Namibië sal afskeid neem van die "jetty" wat vir meer as 80 jaar ‘n landmerk en kuierplek by die see vir besoekers was.

Die stadsraad van Swakopmund het die besluit oor die pier geneem. Daar sal egter nog probeer word om die deel naaste aan die strand te behou. Ontwikkelaars in die gebied sal hierdie taak in gedagte moet hou in toekomstige uitbreiding.

Maar alles is nog nie verlore nie en daar word nog eens oorleg gepleeg met die firma Cape Diving & Salvage om na nog moontlikhede en opsies te soek sodat die karakter van die dorp behoue bly.

Die ou pioniersbrug waar mense, diere sowel as goedere aan wal gebring sou word, is aan die begin van die vorige eeu gebou. Die brug is oorspronklik van hout gebou in vyf fases. Toe reeds is daar vasgestel dat daar met die hout ‘n groot probleem is omdat ‘n boorwurm die hout binnegedring het en so kon absolute veiligheid nie verseker word nie. Met groot omsigtigheid is die probleem gehanteer en die landing van passasiers, goedere en diere kon plaasvind. By een geleentheid het 1190 perde heelhuids in Swakopmund aangekom. So is ook die eerste beeste wat die ruggraat van die veeboerdery sou uitmaak hier ingevoer. Verbeteringe aan die brug is oor die tyd gedoen en later met staal vervang. Kortom, die geboorte van die ekonomie van die land is te danke aan die landingsbrug in Swakopmund.

Die bestuur van die landingsbedryf is deur Theodor Ritter gehanteer wie se huis onderkant die Hotel Bismarck gestaan het en vandaar dus die naam Ritterburg.

Die SA firma Cape diving & Salvage het die ondersoek na die toestand van die pier gedoen en die oordeel oor die ysterkaai kom nadat dit feitlik 90 jaar lank gestaan het.

Daar is egter wel hoop dat die strandgebonde deel wel behoue kan bly.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia