![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Saturday 28th of April 2007 Belasting. Nare woord. Die moeder van bedrog en korrupsie en rewolusie sedert die die vroegste tye. back Daar word gese dat Keiser Augustus die vroegste belastingkundige en strateeg was. Hy het belasting gehef en laat insamel op sy verskeie metodes en vele belastingontduikers het met hul kop geboet. Verkoopbelasting op slawe was 4% en op enige ander handelsware 1% Reeds honderde jare gelede het Boadicea in Europa ‘n rewolusie ontketen oor korrupte belastinggaarders Duisende mense sterf in die aksie. Dis egter net een van vele opstande In die elfde eeu leef Lady Godiva in Engeland. Daar is opstand oor belasting. Haar man, die Earl Leofric belowe om die belasting te verminder as sy vrou nakend deur Coventry met die perd sou ry. Sy doen dit en hy hou sy woord. Verder terug in die geskiedenis het Jesus met sy dissipels deur Galilea beweeg en hulle stel hom die vraag of dit reg is om aan die keiser belasting te betaal. Jesus kyk op die muntstuk en hy vra wie se kop daarop is. Die keiser s’n. Toe se Jesus vir hulle:” Gee aan die keiser wat aan hom behoort en aan God wat aan Hom behoort.” In ons tyd, wat behoort aan die keiser? Moet ek vir hom gee? Hoekom? Wat baat ek? Toe Jesus sy dissipels geroep het, het hy vir Levi wat tollenaar was, van sy tolhek weggeroep en gese: ‘ Volg my” Hy het dit gedoen en was verlos van die vloek van die tolhek Die tollenaars was die ergste skande van die tyd. So lyk belasting. En in ons tyd is belasting nog steeds daar. Belastingbetalers is eintlik gyselaars van die burokrasie. Vernuftige slenters vleg deur belasting…belasting is bloedgeld Belasting op inkomste, op grond, op dienste, belasting op erfenis en pensioen. Belastingbetalers is die lammers ter slagting gelei. Betaal vir dienste, gesondheid, veiligheid, onderwys en die Paleis op die bult. Dit was weer begrotingstyd en die heersers het weer besluit oor die stand van die staatskoffers. Die betalers kry net die wete dat hulle sal betaal en betaal sal hulle. Die bedrae geld wat ter sprake kom is meestal swewend op die wolke en die reenboog van hande in die koffers gaan menseverstand te bowe. Duiselingwekkende bedrae geld raak net weg. Spoorlooos. Hoe nou? Belasting op wegraak? Maar die lammers betaal. Daarbenewens koop hulle nog dienste soos kwaliteit gesondheid, onderwys, sekuriteit, en vele ander soos by voorbeeld die goue vleuels van Air Namibia vir baie klinkende munt Die kontrak tussen owerheid en belastingbetaler behoort die hoogste morele waardes uit te straal. Dis ‘n heilige kontrak. Die owerheid is die rentmeester van die land. Die land behoort nie aan hom nie. Hy is die direksie van die bevolking se saak. Met sy belasting koop die volk aandele in die saak en hy is wettig geregtig op dividende in die vorm van effektiewe en betroubare diens wat aan hom gelewer word deur kundige amptenare vir wie se salaris sy belasting betaal. Sy kinders moet put uit die beste onderwys en opvoeding wat die wereld se kennispoel en waardes bied. Belastingbetaler betaal suiwer munte daarvoor. Daar moet jaarliks suiwer en korrek verslag gedoen word aan die betalers oor wat met hulle geld gedoen is en watter ekonomiese vooruitgang daar getoon word. Die belegging van die belastingbetalers moet vrugte dra. Daarvoor sal die universele ekonomie- wette sorg as hulle kundig en eerlik toegepas word. Maar belastingbetalers is dit ook aan hul land en bevolking verskuldig om te ondersoek en sonder skroom te vra wat van hul geld geword het en watter waarde het hulle vir hul geld gekry. Dis universeel en deel van menswees om te weet watter waarde jy ontvang vir geld wat jy gee…’n Land wat nie kan skoon verslag doen aan sy bevolking oor die aanwending van sy geld nie, is sonder argument gedoem tot ondergang en rewolusie. |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





