![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Reuse Koperketel by die Museum Friday 25th of May 2007 Die museum in Swakopmund is ons rentmeester van die kosbare herinneringe wat die pioniersgeslagte aan ons agtergelaat hetSwakopmunders was natuurlik baie trots op die nuwe aanbousel aan die museum waar die herinneringe van die ou brouery ‘n tuiste gevind het. ‘n Gesellige saamkuiertjie gaan hier ontwikkel as al die planne eers afgehandel is. ‘n Groot verrassing was egter die reuse koperketel wat toe op die dak van die museum verskyn om ‘n soort van ‘n koepeltjie te vorm. Swakopmund se eie argitek,Erhard Roxin het met die treffende gedagte vorendag gekom en bou-aannemer Wilfried Groenewald was gereed om die werk te doen. En siedaar! Die voorgeslagte se brouketel word omgetower in ‘n pikante koepeltjie vir ons museum. Swakopmund se gemeenskap bewaar sy erfenis met passie. Wanneer die nuwe kuierplekkie gereed is, en die huidige geslag daar gesellig verkeer, dan hou die statige ou vuurtoring van daar op die hoogte ‘n flitsende wakende oog oor hierdie kosbare geskiedkundige hoekie in ons dorp. Volgens oorlewering het daar mos ook hier waar die museum staan in die stormagtige tye van Wereldoorlog ‘n bom geval toe Swakopmund deur die Britte van die skip af gebombardeer is. Swakopmund was dus die enigste dorp wat in die Eerste Wereldoorlog onder die bomme deurgeloop het. Ja Swakopmund het baie stories en baie mense met deursettingsvermoe het hier in die woestynsand ‘n tuiste geskep nadat hulle groen kleurryke Europa agter gelaat het. Baie kreatiewe planne is gemaak om die lewe hier aan die soom van die woestyn te laat rigting kry. Mooi moes geskep word, lewenskwaliteit moes sy rigting vind. Die beskikbare bronne vir oorlewing moes getap word. Waar sou lewegewende water vandaan kom? Die probleme is een vir een opgelos en as ons vandag opkyk na die koepeltjie op die dak, gaan ons gedagtes onwillekeurig terug na daardie mense en ons staan vir ‘n wyle stil in waardering. |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





