Die Waarde van Politiek

Friday 25th of May 2007
Petra Hamman
Politiek is ‘n onwegdinkbare  element in ons lewe.  Elke dag word ons daarmee wakker en saans gaan ons daarmee bed toe.  Vir sekere mense steek daar  baie geld in en andere moet weer  om een of ander onsinnige rede opdok.  Sekere staatsamptenare skep behae daarin om vir hulle ‘n magsposisietjie uit te skrop en die publiek moet maar net netjies in rye staan.
Die demokrasie is glo in ons land stewig gevestig. Ons het ‘n veelpartystaat en ons leef met ‘n model demokrasie.  So word gese.
Die CoD, amptelike opposisie het die naweek kongres gehou in Keetmanshoop.  Leiers moet verkies word of daar moet van hulle ontslae geraak word  Daar is toe agter geslote deure heelwat swaarde gekruis totdat die vergadering in twee groepe deel en  die een die kongres verlaat  Die lede het egter te kenne gegee dat hulle nie uit die party bedank nie
Mnr Ben Ulenga is weer as leier verkies met mnr Alfred Chilinda as vise-president in die plek van me. Schimming-Chase. Me   Rosa Namises  word sekretaris-generaal, Ben Kapi tesourier en Tsudao  Gurirab is die nasionale voorsitter.
Me Schimming-Chase, mnr.  Kala-Gertze en me. Elma Dienda is die parlementslede indien hulle sou aanbly as CoD-lede.
Mnr Ben Ulenga bly dus die amptelike leier van die Opposisie in die Parlement.
Die hele verloop van die kongres laat egter ‘n  bitter onsmaaklikheid agter en enige kieser kan dadelik vir homself  se:  By hierdie chaos het ek niks verloor nie en ek kan nie my opposisie-geleentheid aan hulle toevertrou nie met die hoop dat hulle ‘n effektiewe deelnemende  vennoot in regering kan word nie
O,Nee.  As dit die wyse is waarop die party ‘n kongres  in sy eie kraal bele en bestuur,  dan liewer links verby hou.
Dit is die groot skade wat die opposisie-party die land aangedoen het.  Hulle het geen begrip getoon vir die beginsel  van opposisie nie en geen ondersteuners kan hulle aan die kierserskorps as alternatiewe regering  voorhou nie.
‘n  Relevante opposisie moet nie net met donder en bliksem op die regerende party neerdaal nie maar met wysheid en kennis debat voer  oor probleemoplossing.  Hulle moet meesters van kommunikasie wees en  vir elke probleemsituasie  in die regering met die sinvolste alternatiewe vorendag kom.  ‘n Opposisieparty moet sy lede en kandidate werf onder andere ook onder die kundiges  uit die kieserskorps.  Met apologie aan  weerlose lesers,  moet nou asseblief nie die ou verroeste rassismeswaard van die afvalhoop gaan gryp nie.
Kyk na die buurland Botswana. President Festus Mogae het sy land tot groot finansiele hoogtes gelei.  Die VN ry nie vir sy mense kos aan nie.  Nee hulle het hul beste raadgewers gereeld ingeroep om saam te praat,  al was die raad afkomstig van ‘n wit kop met wit hande.  Kennis  kies gelukkig nie die kleur van sy houer nie.  Kennis is die faktor wat saak maak,  in wit of swart houers.  En laat dit tog eens en vir altyd by almal in bestuurs- of regeringsposte sit duidelik begryp word.  Baie duidelik begryp word.  Daar is  geen witmense in die land wat belangstel om ‘n wit  heerskappy te bewerkstellig nie.  Maar samewerking is die groot voordeel in ons land,  die groot bate van ons land, maar dit word versmaai.  As opposisie het die CoD voor die debakel van Keetmanshoop die hoop laat opflikker dat hulle samewerking en samesyn kan bevorder onder die verskeidenheid van die  kultuurgroepe. Maar helaas, na Keetmanshoop se treurspel le daardie vertroue van baie mense in die amptelike opposisie aan skerwe.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia