![]() |
![]() |
|||||||||||||||
|
Saturday 9th of June 2007 ‘n Sterfgeval in Afrikaanse geledere. back Ja, dit is pynlik, dis inderdaad ‘n ramp. Die sprankel-tydskrif, INSIG, is nie meer met ons nie. ‘n Stukkie lewende kultuur is nie meer met ons nie, en dit omdat die finansies die asem uitgeblaas het. Het ons lesers nie meer behoefte aan die aktuele Groot Gesprek nie? Het die skinderblaaie, die vreemde taal oorgeneem? In die bespiegelinge die afgelope tyd, is die populere vermaaklikheid soos TV-sepies luidkeels die skuld gegee vir die siekte en sterwe van die ernstige, aktuele kultuurlewe in Afrikaans. Watter sonde het Insig dan gepleeg dat die leserspubliek hom die rug gegee het? Het die rooi ligte geflikker, het Insig hom gewend tot die ligte vermaaklikheidskultuur om die lesers te lok? Is oppervlakkige sensasie en vermaak dan maar die resep vir ‘n suksesvolle Afrikaanse tydskrif? Of wil ons tog nog ten spyte van alles gedagtes wissel oor ons aktualiteit, ons kultuurgoedere? Hoe sien ons die toekoms? Waarheen met ons taalskat, ons kosbaarste besitting as inwoners van hierdie kontinent? Ons taal kom uit hierdie bodem, Ons kan op alle vlakke van die kuns en wetenskap meedoen en presteer. Net die ontstaan en wording van ons taal is ‘n wonderwerk Maar die Afrikaner het ongelukkig om verskeie redes soos die politiek onder meer, deur die tagtiger jare sy kerk, sy taal en sy kuns verdag gemaak. Kultuurgoedere is afgemaak as outyds, dis voorgehou as verkramp veral deur die jonger geslag. Taaltrots is vernietig omdat die taal gelykgestel is aan die apartheidsbeleid. Om toe die jeug ter wille te wees is gruwelike taalvermenging geduld, ja dis selfs cool! En byderwets. Loslit Afrikaans was aan die orde (wat by wie nou eintlik respek afdwing?) Ons het nog steeds die kunstenaars, maar hoekom het ons nie die lesers nie? Hoekom kan ons nie ons eie toneelgeselskap aan die lewe hou nie? Wat van ons eie dramas op TV? Hulle is mos ‘n ander kategorie as die sepies. As die kykers egter nie daar is nie, dan is die adverteerders mos ok nie daar nie. Daar is dus min vir die literere tydskrif om met geesdrif en waardering aan te bied . Ons moet nou die hand in eie boesem steek. Nie die ANC of die president of die grapjas Zuma het skuld aan die taalmoord nie. Ons pleeg selfmoord deur ons slapgatgeit. Wie het hierdie suidpunt van Afrika getem, wie het hom langs die Europeer neergesit sodat hy moes erken dat hier ‘n Eerste Wereld se kultuur ontstaan het. Wie het hierdie Eerste Wereld aan die huidige bewindhebbers op ‘n glansende silwerskottel oorhandig? |
|||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||





