Uitbreiding langs Dr Schwieteringstraat

Thursday 28th of June 2007
Petra Hamman
Die noordelike uitbreiding van Swakopmund, het die dorp aan die praat.  Hierdie erwe langs Dr Schwieteringstraat was aanvanklik  deur die munisipaliteit bedoel vir eerste huiseienaars. So moes die “eerste eienaars”  by die munisipaliteit gaan registreer en hulle sou voorkeur geniet by die veiling van die erwe.
Maar die realiteit het toe anders gedraai.  Na  een jaar gaan die huise daar op soos die spreekwoordelike paddastoele.  Huise net waar jy kyk!  Of hierdie woonbuurt   Skuldbult of   Mijoenersheuwel gaan heet is ‘n goeie vraag. Een ding is seker. Staan soos ‘n paal bo die golwe uit.  Geen beskeie huisie vir ‘n eerste huiseien-aartjie nie,  maar regte egte paleise staan hier op uit die  sandjies en voor etlikes van die  begeerlike wonings staan sommer so ‘n rytjie “For Sale”- bordjies langs elkander soos soldaatjies  in ‘n ry.  Duidelik is  so amper elke derde  woning driftig in die mark en die agente se bordjies pleit om verlossing. Duidelik word hier modieus en deftig gesmous met die luukse wonings. Een ontwikkelaar se bordjie pryk daar fier in die ooswind:  5 Luukse huise word hier ontwikkel.
Dat die munisipaliteit baie goeie bedoelings gehad het,  is nie te betwyfel  nie.  Maar die liewe goeie vrye mark het sy loop geneem en siedaar!  Hierdie sierade op die bult gaan sekerlik gesogte wonings wees veral vir diegene met ‘n taamlike lang beursie.
In hierdie proses van  bou en ontwikkeling  word  smaakvolle wonings opgerig,  een mooier as die volgende.  Maar die  Swakopse gees soos vanouds,  het nog nie kom intrek nie. ‘n Palmboom hier en daar stry dapper om sy plekkie te verower, maar sien hy is hier geplant en moet sy kant bring.
Maar soos so dikwels wanneer ‘n mens so deur die nuwe woonbuurte kuier, dan kom staan die vraag voor jou in jou pad:  Is hierdie nou wonings of is hulle huise?  Woon hier ‘n gelukkige huisgesin, Pa Ma Ouboet Ousus en Babatjie?  Is Ma hier ‘n tuisteskepper of  ‘n uitgeslape spekulant? Is  hierdie Skuldbult die rentmeester van die Bank?  Of  word hier  kleurvolle tuine aangele en tuistes vir vrou en kinders met liefde geskep?
Een ding is seker.  Ouboet het nog nie die woonplekkie wat hy graag sy eie wil noem nie.  Nee, die jong beginners is nog steeds aangewys op die agterkamertjie,  die woonstelletjie wat eens ‘n motorhuis was of die vakante kamer by skoonmoeder in die huis.
Woonstelblokke toring uit bo die geboue maar enkel of kleiner woonstelletjies is nie daar nie en die amperse  miljoen dollar se woonstelle kan die beginners net nie baasraak nie.  So ook die bejaardes.  Ook hulle is maar aangewys op die agterkamertjie wat die kinders daar het. Aftree-oorde ja.  Dit is daar maar met heffings wat jou rug breek. Hoe nou gemaak met behuising vir beginners?  Diegene wat nog gelukkig is om werk te kry of  ‘n eie saak in Swakopmund te ontwikkel, sy woonplek bly maar ‘n yslike kopseer en ‘n eie gesin is buite die kwessie. Is daar vir ontwikkelaars nie genoeg geld in behuising vir jongmense of oumense nie?  Nou hoe nou vir die toekoms?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia