Die Eiendomsmark in Swakopmund

Thursday 5th of July 2007
Petra Hamman
Die eiendomsmark is besig  om hier in Swakopmund ‘n groot kopseer te word. Dat die mark vir woonstelle versadig is, is geen geheim nie.  Maar al is dit nou ook die geval is dit baie duidelik dat jongmense geen heen-kome het nie.
Mense betaal ook  sondermeer die uiters onrealistiese pryse wat tans op die mark heers.  Die verkopers  skep soms die indruk dat die waardasie van eiendomme na willekeur geskied en die kopers daarenteen is te vinde vir buitensporige pryse wat van hulle verlang word.  Op die wyse word jongmense ook effektief uit die mark geweer
In gesprek met ‘n waardeerder was hy van mening dat hy maar liewer sy waardasie  volgens die wense van die klante rig eerder as om stringe reels na  te kom.  Hy voel soms dat sy klant eenvoudig na ‘n ander waardeerder sal gaan om sy sin te kry.  Die banke is ook  uitgelewer aan die onrealistiese  waardasies waarvoor hulle lenings moet goedkeur.  Nog ‘n probleem waarmee die waardeerder te kampe het, is die versekeringswaarde waarmee die klant moet rekening hou.  Die indruk word geskep dat  dit ‘n syfer is wat onafhanklik van die koop- of verkoopprys is.
Solank kopers lukraak die pryse betaal wat verkopers eis, sal daar nie juis klarigheid kom in die prysstrukture nie.. En dat die mark beslis besig is om  baie ontoeganklik te word, is wis en seker.  Potensiele kopers het ook  gese dat hulle die ervaring gehad het dat  ‘n “gewaardeerde” prys vir hulle gegee is en op die nippertjie voeg die verkoper maklik ‘n twee of  driehonderdduisend dollars by en hulle kry dit.  Kopers is soos die lam ter slagting gelei en haal maar uit.
Nog ‘n element wat die huismark sterk beinvloed, is die swak bouwerk en vakmanskap wat in Swakopmund volgens kopers floreer. Soms is materiaal opsigtelik van minderwaardige gehalte en die vakmanne gaan net voort sonder enige bekommernis. Veral in Swakopmund waar daar so groot gebou word, is dit  uiters belangrik dat ontwikkelaars  hulle vaklui deeglik onder die loep neem.
‘n Vraag wat dikwels opgekom het, is  of die woonstel-blokke langs die kus nie heeltemal ‘n ooraanbod is nie.  Veral Langstrand se geweldige uitbreiding en ooraanbod van woonstelle laat mense vra maar waar kom die kopers vandaan?
Nog vrae wat die man op straat besig hou is die kwessie van sake. Beweeg deur Vogelstrand in die noorde, of Hage Heighs of Myl 4. Nerens is daar ‘n beduidenis van sake wat ontwikkel nie.  Slegs Vineta of die  stadkern is geseen met  sakeondernemings.  Die Waterkant sou ook ‘n lewendige sakedeel te voorskyn gebring het.  Tot dusver,  nie ‘n beduidenis nie.
Swakopmunders is natuurlik baie trots op hulle mooi “nuwe dorp”  maar  hoe nou gemaak met sake-ontwikkeling?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia