Basiese Inkomste-Toelaag

Friday 17th of August 2007
Petra Hamman
ie Basiese Inkomstetoelaag wat aan hierdie gemeenskap van ellende gaan uitbetaal word,  om armoede te bestry is N$100.  Oor die volgende twee jaar  sal daar  aan elke persoon onder 60 jaar oud die bedrag uitbetaal word.
‘n Registrasieveldtog sal eersdaags hier plaasvind vir al die deelnemende huishoudings  in die gebied.  Die doel is om die hoe  vlakke van al die euwels soos armoede, werkloosheid,  MIV/Vigs te bekamp.
Hoe die aalmoese gefinansier sal word, is nie duidelik nie maar iewers is daar ‘n geldbron wat aan die wat nie het nie sal gee totdat hulle het.  Daar sal bloot gegee word om so gelykheid ook te bevorder.  Vir twee jaar sal die proefneming geld en dis nie  juis duidelik hoe die res van die land se “armes” verhoed sal word om in hul  vreugde hierheen te stroom om te kom deel in die  vreugde nie.  Kom na die land van melk en heuning want jy hoef nie eens jou koei te voer nie en die swerms bye is reeds op pad.
Die gedagte is dat deur die vrugbare gee-aksie elke individu se lewenskwaliteit  sal verbeter en armoede uitgewis sal word.  Ook die skreiende ongelykgheid sal aangespreek word. Hoe hierdie aksie ekonomiese ontwikkeling gaan stimuleer is nie duidelik nie.
Iewers is daar ‘n baie groot sak met geld en dit sal tog te  gaaf wees om te weet waar  die einde van die reenboog is met sy pot goud.  Kan dit dalk belastinggeld wees?  Is ons  hier sulke liewe mense wat so ‘n oop hand vir ons naaste het?
Die mens is sedert sy skepping geleer dat geld deur arbeid verdien word.  ‘n Baie vreemde leerstelling in hierdie land veral  as die bestuursvernuf afwesig is.  Waar is die regering van die land om kapitaal te bele in sy mensemateriaal?  Dit is moontlik dat sy mense deur arbeid  sy brood kan verdien.  Daar was al talle opheffingspogings in die land wat op sukses gedui het,  maar sieklike rassepolitiekery het dit elke keer gekelder.  Die plaas waar ‘n pragtige vroueprojek goed vorder en 400 vroue goed verdien word onteien deur die regering en hierdie pragtige werk word stukkend getrap.  Gee aan vroue die geleentheid om die probleme aan te spreek en daar sal blywende resultate wees.  Waar die swart en die wit vrou hande vat, sal daar sukses wees maar die plan van aalmoese kan op geen  manier menswaardigheid, kreatiwiteit en vooruitgang bring nie.  Vroue het kinders en wanneer hulle eerlike geleenthede gebied word om  hul gawes te gebruik om te lewe, sal hulle sukes behaal.  Dink maar aan ‘n lopende suksesverhaal soos  Ikhoba in Swakopmund waar vrouehandewerk verkoop word en vroue beloon word vir hulle  uitstaande kreatiewe skeppings. Dalk kan die briljante vader van  BIT  ‘n besoek afle by Anin in Swakopmund en daar gaan kyk hoe lyk werk waarvoor ‘n mens beloon word.
Humanitere uitreiking na jou naaste is lofwaardig maar die gelofie om liewer iemand te leer visvang en  dan ‘n visstok skenk, kan meer tred hou met die werklikheid en die wet  van die ekonomie.
Met ‘n bedrag van N$24 miljoen kan ongetwyfeld  wins-gewende projekte van stapel gestuur word en aan baie gesinne menswaardigheid verskaf.  Vra gerus  aan mev. Veronica de Klerk van WADE hoe ‘n ekonomiese  krag vroue kan wee swat reg gelei en bestuur word. Die huidige sinlose vrouedae wat elke jaar gehou word kan gerus voortaan gewy word aan die ekonomiese bevordering van vrouekrag in die ekonomie.  Terselfdertyd kan mans ook kennis neem van die feit dat vroue met ontsag behandel moet word want hulle skep en verseker lewe en geborgenheid.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia