![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Friday 24th of August 2007 ‘n Gemuetliche kuierplekkie in Swakopmund is sommer ‘n heerlike toevoeging tot die bekoorlikheid van die strand.Kreatiewe Swakopmunders het onlangs nadat die ou brouery van baie jare toegemaak is, die gedagte gekry om ‘n groot brouketel as aanbousel by die museum te bewaar. Dis eintlik vreemd om aan Swakopmund sonder die brouery te dink. Die pioniers wat die dorp hier by die Atlantiese oseaan kom neersit het, kon natuurlik nie die brouery in Europa agterlaat nie Maar die jong geslag moes toe seker ook maar die ekonomie en sakebedryf in gedagte hou en die ou brouery is toegemaak. Die geskiedenis het hier vir Swakopmund ‘n poets gebak. Maar getrou aan die ontwikkeling van Swakopmund, het die sakelui besluit die mooi stukkie geskiedenis sou vir die nageslag behoue bly. Die aangewese plek is natuurlik die museum wat ‘n ryk versameling historiese ware het maar die gedagte ontstaan toe om al die toerusting van die brouery ook te behou. Al genade was om ‘n deeltjie aan die museum aan te bou en die gebruiksartikels daar bymekaar te bring. So is die groot ketel soos ‘n klein torinkie op die hoek van die gebou op die dak ingebou en die res van die artikels is toe vir die gebruik in ‘n klein kroegie aangewend. Die gevolg was dat daar aan die hoek van die museum die interessante klein Pub ontstaan het en gaste kan verseker wees van ‘n keurige spyskaart Ete en drinke is vir elke smaak daar en ‘n mens is gelukkig as jy nog ‘n sitplekkie kry. Binne is dit net so gesellig met die interessante koper gebruiksartikels en natuurlik getrou aan Swakopmund se tradisie, kan op ‘n sonnige dag hier ook ‘n koue bier geniet word. Hierdie kuierplekkie is sekerlik ‘n kosbare toevoeging van waarde by die strand wat in ieder geval ‘n juweel is. Voorwaar ‘n blink gedagte om die ou brouery op sy oudag nie te versmaai nie maar soos ‘n oupa wat omgee,hou hy nou ‘n ogie oor die jongklomp se kuier hier op die strand waar soveel geskiedenis oor die laaste eeu plaasgevind het. |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





