![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Irak - Geskiedenis, Kultuur en Oorlog Tuesday 4th of March 2003 Irak, die wieg van menslike beskawing dreig om ‘n moderne oorlog te ontketen wat dalk duisende lewens sal eis. Volgens VN-resolusie 1441 moet Irak ontwapen en alle wapens van massa-vernietiging vernietig. Wapeninspeksies deur die VN het plaas gevind wat nie juis klinkklare bewyse opgelewer het nie en terwyl Amerika en Brittanje dreig met militêre aksie, dring Frankryk, Duitsland, Rusland en andere aan op meer tyd vir wapeninspeksies en geleentheid om die diplomatieke proses voort te sit. Meer as tweemiljoen mense rondom die wêreld het ook betoog teen ‘n moontlike oorlog. Irak is weer ‘n week tyd gegee om met ‘n verslag vorendag te kom oor sy wapens maar Amerika se magte is reeds wyd versprei in die Golfgebied en dit lyk asof die VSA selfs sonder die sanksie van die VN kan aanval. In die antieke tye was feitlik die hele gebied wat nou bekend staan as Irak Mesopotamie. Uit die Bybel Gen 2, is dit duidelik dat die Tuin van Eden tussen die Tigris- Pison-, Gihon- en Eufraatrivier geleë was. Antieke beskawings soos Babilon, Sumerië en Mesopotamië was die oorspronklike inwoners van die gebied. Selfs Abraham, die stamvader van die volk van Israel, het uit Ur van die Galdeërs wat ook in die gebied was,gekom en daarvandaan na Kanaan getrek.Die Sumeriese beskawing het tussen die Tigris en die Eufraatrivier ontwikkel. Die gebied was baie vrugbaar maar was ook geteister deur oorstromings van die riviere. Volgens oorlewering het Noag hier die ark gebou en daarmee een van die vloede oorleef. In die vrugbare gebied is daar met die eerste landbouontwikkeling deur die mens begin. Produksie het gefloreer en dit was nodig om handel te bestuur en te orden. Dit was in die ontwikkeling dat die Sumeriërs met die eerste ploeg en wiel te voorskyn gekom het. Soos wat die landbou en die handel vooruit gegaan het, het skrif ook ontwikkel en die eerste alfabet het gekom. Ook wiskunde het hier sy ontstaan gehad. Die Sumeriërs het ‘n wiskundige sisteem ontwikkel met die syfer 60 as basis. Ook ‘n soort van ‘n bankstelsel het hier in Mesopotamië ontstaan saam met die landbouproses. Nog ‘n belangrike erfenis van die Sumeriërs was hulle geskrewe poësie en epiese literatuur. Ook die storie van Noag is deur hulle reeds opgeteken. Die Sumeriërs het ook ‘n eiesoortige godsdiens gehad. Hulle het Anu die god van die hemel aanbid en Ea die skepper van die mens en die misterie Die vooruitstrewende volk sou dan ook te doen kry met vyande en in 2340 vC is hulle dan deur koning Sargon oorweldig en het hy ‘n nuwe Akkadiese ryk gevestig wat die goedontwikkelde stadstate en stede van die Sumeriërs ingesluit het. Oor ‘n tydperk van 400 jaar het ook die Akkadiese ryk agteruit gegaan en het die Amoriete die grootste deel van Mesopotamië verower en hulle gevestig in die stadstaat Babilon. So was die gebied oor ‘n lang tydperk geteister deur oorlog. Ongeveer 1792 vC het koning Hammurabi op die toneel verskyn en weer na die weste waar Sirie is, uitgebrei. Jare later het die Assiriërs oorgeneem en so was die land aanhoudend in oorlog betrokke. Hulle was ‘n magtige volk met ‘n kultuur wat besondere groei in wetenskap en wiskunde getoon het. Hulle was die eerste om die sirkel in 360 grade te verdeel. Ook wat die mediese wetenskap betref het hulle invloed uitgeoefen tot sover as Griekeland. In die sesde eeu vC het Nebukadneser Judea aangeval en Jerusalem verwoes. Ook die tempel het in die slag gebly. Nebukadneser 11 het toe Mesopotamie op sy hoogtepunt was, die legendariese Hangende Tuine gebou. Dit is op die oostelike oewer van die Eufraatrivier ongeveer 50km suid van Baghdad Na die dood van Nebukadneser is die land nog deur verskeie magte verower onder meer Alexander die Grote wat ook daar oorlede is in die derde eeu vC Later word die gebied deel van die Persiese Ryk en in die 7de eeu nC het die Moslems die land verower. Politieke onstabiliteit heers vir jare. In 1533 het die Ottomaanse Ryk beheer oor Bagdad en die grootste deel van die hedendaagse Irak oorgeneem en het met onderbrekings in beheer gebly tot na die Eerste Wêreldoorlog.. Die Britse magte het in die Eerste Wêreldoorlog suidelike Irak ingeneem maar nie onttrek na die val van die Ottomaanse Ryk nie. In 1921 organiseer die Britte ‘n verkiesing en prins Faisal kom aan bewind. Die Irakse volk kry beslag maar is onderhewig aan Britse beheer. Op die koning se versoek bly hulle aan terwyl die Kurde om selfbeskikking veg in die noorde. Irak verklaar in 1932 sy onafhanklikheid van Brittanje. Later word koning Faisal 11 in ‘n staatsgreep om die lewe gebring Nadat Koeweit in 1960 onafhanklik geword het, volg ook ‘n lang stryd tussen Koeweit en Irak. In 1979 na jare se stryd, neem Saddam Hoessein met ‘n staatsgreep oor. Hy herbou die weermag. Hy onderdruk die Kurdiese rebellie met chemiese aanvalle op die land waarin duisende mense sterf. In 1990 val Irak Koeweit binne en in die volgende jaar dreig ‘n internasionale koalisie om hom met geweld uit Koeweit te verdryf. Irak verontagsaam die VN se opdrag om te onttrek en die koalisie onder leiding van Amerika begin met lug- sowel as grondaanvalle op Irak. Die VN stel sanksies teen Irak in en dit sou in plek bly totdat hy gehoor gee aan al die voorwaardes van die skietstilstand . Wapens van massavernietiging was volgens die ooreenkoms verbode en wapeninspekteurs gaan na Irak om vas te stel of hy gehoor gegee het aan die ooreenkoms. Hy werk nie saam met die wapeninspekteurs nie.Verlede jaar gaan die VN se wapeninspekteurs weer na Irak en die regering van Saddam Hoessein lewer ‘n verslag van duisende bladsye aan die VN en ontken die bestaan van sodanige wapens. Die wapeninspekteurs gaan met Saddam se goedkeuring die land binne om vas te stel of daar kernwapens, biologiese of chemiese wapens vervaardig word. Hulle bewyse oortuig nie die teenstanders van oorlog nie en die moontlikheid van militêre aksie word al sterker. Is dit nie ‘n geweldige risiko van die Amerikaansgeleide groep om deur oorlog in Irak miljoene Moslems te vervreem nie, selfs fundamentalisme te versterk nie? Dis van die vrae wat die wêreld pla. Maar as in ag geneem word watter gruweldade Saddam Hoessein se magte teen die eie bevolking gepleeg het, dan begin die prentjie anders lyk. Militêre magte van Amerika en Brittanje is reeds na die gebied verskuif, maar die diplomatieke aksie laat die oorlogspoging nog wipplank ry. |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





