![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Agra verder betrokke by Dagbreek Skool se landbouprojek Friday 14th of September 2007 Agra, wat reeds sedert verlede jaar ondersteuning aan die Dagbreek Skool se landbouprojek verleen, het ‘n verdere N$10 000 aan die skool geskenk vir die uitbreiding van die projek. Die insetkoste vir elke fase van die projek bly ‘n uitdaging vir die skool. Deur die finansiële ondersteuning van instansies soos Agra, kon baie hulpmiddels reeds aangeskaf word. Dit help om die bestuur van die projek te vergemaklik en produkte van goeie kwaliteit te produseer. Leerlinge word individueel betrek deurdat genoeg gereedskap beskikbaar is. Mnr Paul du Plessis, skoolhoof van Dagbreek, getuig van die terapeutiese waarde wat die versorging van die tuin en die diere wat aangehou word, vir die kinders het en die belangrikheid van die projek om leerlinge te leer om selfstandig te wees. “ Agra fokus om geld te investeer in projekte waar volhoubaarheid, oordra van kennis en vaardighede in die landbousektor, deursigtigheid, redelike professionaliteit en ‘n uitkoms-gebaseerde benadering duidelik is. Die Agra/Dagbreek landbouprojek is ‘n voorbeeld van ‘n projek wat aan hierdie vereistes voldoen – dit bemagtig mense deur waardevolle vaardighede aan hulle te leer en genereer sodoende ook broodnodige fondse vir die skool. Omdat die projek so suksesvol is, het dit ook ‘n rolmodel geword vir ander skole en instansies”, het Birgit Hoffmann, die bemarkingsbestuurder van Agra, gesê. Agra se verbintenis tot die land-bouprojek van die skool is nie net beperk tot hul finansiele ondersteuning nie, maar ook deur die beskikbaar-stelling van kundige raad en onder-steuning met die aankope van hulpmiddele by Agra se tak in Windhoek en verskaffing van prysetikette vir die produkte wat in die varsproduktestalletjie verkoop word. Die borgskapooreenkoms vereis dat die leerlinge blootgestel moet word aan landbou-aktiwiteite buite die skool, en ‘n groep leerlinge het op Agra se uitnodiging ‘n grootveestoetveiling van Agra bygewoon in die Agra Standard Bank Ring en het tydens die geleentheid hul borgskap ontvang. |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





