Landbou - Ruggraat van die Land

Friday 12th of October 2007
Petra Hamman
Die Landbou   Ruggraat van die land
deur Petra Hamman
Die  Skepper het aan die mens die natuur gegee en hy het die opdrag om daarvan te lewe. Hy moet werk en kennis  verwerf sodat  hy hierdie gawe ten volle kan benut vir lewe.
Maar in ons dag het die landbou, die goddelike gawe, die grootste politieke slaansak geword en as Afrika honger het, word die weer die skuld gegee en die VN moet hom haas om kos te kom uitdeel in Suider-Afrika en elders op die vasteland.
Daar is geen fout te vind met die regverdige verdeling van landbougrond in ‘n land nie maar as die politiek  soos in die buurland die landbou vermoior en sy laaste lewensbloed uit hom pers, dan is die goddelike gebod van lewe uit die land verkrag en vermoor.  Dan verdien die mens ‘n hongerdood.
In SA het sakelui nou die regering ernstig aangespreek oor die  dreigemente oor  die sogenaamde grondhervorming.  Daar word  naarstiglik politiek bedryf eerder as om met oplossings te kom en te sorg dat daar belegging en groei in die landbou kom.  Produksie kan net plaasvind as daar behoorlik na die wetenskaplike bedryf van die landbou gekyk word.  Landbou is lankal nie meer die sektor vir ongeskooldes om daar  rond te ploeter en te staak nie.  Daar is weliswaar goeie beroepsmoontlikhede in die landbou vir kundige mense maar die skop skiet en donner landboupraktyke van SA, Zimbabwe en Namibie dryf net die land tot honger en vernietiging
‘n  Plaasprodusent moet deesdae baie belangrike sakebesluite neem as hy wil oorleef en  hy kan nie meer sonder die inspan van die  wetenskap en die tegnologie die mas opkom nie.  ‘n Produsent moet deesdae die fisiologie van plant en dier bestuur om  gehalte te lewer.  Dus is deeglike opleiding van die grootste belang en daarom in ongekoolde mense nie meer in aanvraag   waar produksie  moet plaasvind nie.  Dis duidelik dat mense op plase se opleiding baie verder moet strek as die plaashek.
Die rigtings wat intensiewe aandag moet kry is grond- en natuurlike hulpbronbestuur, reproduksie, plantproduksie, bewaringsekologie en ekonomie.  Mense wat die grootste in aanvraag sal wees is  dus diegene met ‘n sterk wetenskap-agtergrond sowel as  die met landbougerigte  bemarkingsvaardighede.
Dit is dringend noodsaaklik dat die  negatiewe persepsie  ten opsigte van landbou moet verander.  Indien daar nie leiers uit die regering  na vore kom om die landbou daadwerklik te ondersteun nie, sal die agteruitgang nie gestuit word nie.
Daar is tans in RSA sowel as Namibie ‘n sterk buitelandse navraag na die dienste van opgeleide  plaasprodusente en uit twee buurlande word grond beskikbaar gestel vir 99 jaar aan diegene wat wel daar sal kom boer en produseer en die landbou red van ondergang.  Zimbabwiese boere is ook lankal opgeraap vir hul kennis en potensiaal.
Miljoene hektaar kan vryelik in ons land aan die grondhongeriges beskikbaar gestel word  na onteiening van goed ontwikkelde plase maar dit sal lappe plakkershutte  produseer in plaas van kos vir die volk .  Die ekonomie  sal nie besondere baat vind daarby nie en die land sal net verder op die skaal  van kompeterende lande val
Die enigste redding vir die landbou  is  eerstens dat die saak uit die politieke magspeletjies gehaal word, en verder moet die bewussyn posvat dat  opleiding en vaardighede  lewensnoodsaaklik is vir die bedryf.  Net soos elke ander faset van die volkslewe is landbou ook besmet met die  rassismevirus en voordat daar nie vir die virus ‘n geslaagde remedie gevind word nie,  sal die volk nie omdraai op die pad van vernietiging  nie.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia