Gedagtes oor 'n Opposisie

Thursday 31st of July 2003
Petra Hamman

‘n Goeie opposisie, ‘n deelnemende of ‘n sterk opposisie? Dis ‘n wesentlike vraag in die gemeenskap en is nie net ‘n vraag om kort voor ‘n verkiesing haastig bietjie debat uit te lok nie. Dis ‘n fundamentele gesprek wat deurgaans in ‘n demokratiese bestel behoort gevoer te word.

So moet ook sonder emosionele opwelling feitelik na opposisie gekyk word. In Namibië is opposisiepartye nie juis beduidende tuistes vir die kiesers van die land nie want nie een van die partye vervul die hele spektrum van opposisiefunksies soos wat dit in ‘n demokrasie gedoen behoort te word nie. ‘n Beduidende deel van die bevolking wat oor groot potensiaal beskik het heeltemal onbetrokke en apaties geraak.

Opposisiepartye moet weliswaar standpunt teen die regering inneem en dit beteken nie net klakkeloos teenkanting te bied teen alles wat die regering sê of doen nie. Hulle moet verseker weet dat hulle kundige en werkbare alternatiewe aanbied. Dan is dit noodsaaklik dat bepaalde belange van minderhede wat andersins verwaarloos sou word, wel verteenwoordig word. Ook wanpraktyke moet sonder aansiens des persoon ontbloot word.

In ‘n volwasse en gesonde demokrasie sal die regering die regte en pligte van die opposie erken om hul erkende rol te speel. Die bydrae van die deelnemende opposisie moet nie geskaak word nie met die doel om ‘n eenpartystaat te vestig nie.

Die opposisie moet ook met goeie trou optree en dan as sodanig deur die regering erken word. Die bydraes tot "good governance" (wat Nepad so graag wil sien) deur die opposisie moet geimplementeer word en erken word. Die regerende party het nêrens in die moderne demokrasie die monopolie op nasionale lojaliteit nie en teenkanting teen of verskil van die regering is nie verraad teen die land nie.

In die Afrika-konteks kan die genoemde funksies van die opposisie egter aangevul word met ‘n belangrike bykomende taak en dit is om regstreeks ‘n konstruktiewe bydrae te lewer tot doeltreffende regering. Die beste bydrae wat ‘n party kan lewer is om wanneer hy oor alternatiewe en werkbare beleidsraamwerke en vaardighede beskik, konstruktief as deel van die regering sy insette te lewer sonder om van sy opposisiestatus afstand te doen. Dit is vir die opposisie beter, trouens dis vir die hele regeringsbestel beter om as deel van die regering, daar waar hy ‘n verskil kan maak, sy insette te lewer en in die hoofstroom van die politiek te beweeg eerder as om van die kantlyn af ‘n indruk te probeer maak.

Opposisie is nie in sigself ‘n doel om na te streef nie, maar om verantwoordelikheid op regeringsvlak te help deel is wel in belang van die kieserskorps wat hy verteenwoordig sowel as vir die hele regeringsopset.

Die Westminster-styl van regering is vir Afrika ‘n uitgediende koloniale nalatenskap en dit laat opposisie bloot optree om terug te veg en te polariseer eerder as om konstruktief tot voordeel van die bevolking te werk.

‘. Indien die veelgeroemde Nepad ook daarop gemik sou wees om die staatkundige bestel te herdefinieer en in die rigting van deelnemende regering sou werk, kan daar sukses behaal word en die vele konflikte op die vasteland ontlont word.

Om net ‘n paar voorbeelde te noem: In Angola kon Unita onder ander omstandighede ‘n onbetwisbare opbouende rol gespeel het indien hy sinvol geakkommodeer kon word in die regering Dit kon ‘n beduidende aksie wees om die dekades-lange konflik te ontlont . Watter beter resep vir vooruitgang kan mens jou voorstel as dat die Zanu-PF party en die opposisie van die MDC medeverant-woorde-likheid vir die regering kon deel.

Die futiele terugveg-styl van opposie het in suidelike Afrika al feitlik die politieke toneel verlam. Blote ellende, hongersnood en dood het daaruit voortgespruit. Die kiesers sou een en almal verkies dat die brandende vraagstukke soos MIG/Vigs, uiterste armoede, misdaad, werkloosheid gesamentlik deur die bevolking aangepak moet word en dat die belang van die bevolking as sodanig gedien word en dat die hele regeringspeletjie nie net verval in die destruktiewe magspel van ‘n sekere elite-groep nie. Dit raak al meer noodsaaklik dat veral Namibiê gebruik maak van al sy vaardighede om effektief te kan regeer eerder as om sekere bruikbare reserwes wat aan die totaal ‘n verskil kan maak, in opposisie te verwerp.

Die keuse wat opposisiepartye in ons land het, is om voort te mor en van die toneel af te val, of om ‘n bydrae te lewer tot regering en konstruktief daaraan deel te neem. Dit is dus ‘n keuse tussen die polariserende Westminster-tradisie of ‘n konsensus-soekende opposisie wat tot voordeel van die hele bevolking wil werk.

Beter metodes vir nasiebou kan kwalik bestaan. Die totale bron van vaardigheid in die land word benut om gesamentlik aan vraagstukke te werk en die beste oplossings te bereik. Lojaliteit aan die gemeenskaplike doelwitte, naamlik om vraagstukke saam aan te pak, word versterk en die kiesers sal beslis na die stembus terugkeer. Daar kan so groter inklusiwiteit in besluitneming bestaan eerder as eksklusiwiteit soos wat in die apartheidsisteem bestaan het en op ‘n ramp uitgeloop het.

As die huidige gemanipuleerde demokrasie nie ‘n fundamentele gesindheidsommekeer maak nie, kan die kontinent steeds met die moordende, konflikryke manier van doen voortstrompel en van al die ideale van nasiebou en vooruitgang en vryheid sal niks tereg kom nie. Die visielose toekoms kan vir die jeug ontaard in ‘n selfmoord bomaksie waar jy ten minste ‘n paar van die gehate onderdrukkers saamneem as jy jou eie lewe opoffer.Die vraag is: Watter keuse wil Namibië uitoefen? Vooruitgang waaraan almal, wit en swart deelneem of die ramp van verterende armoede as gevolg van wanbestuur

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia