Regverdige Regering - Good Governance

Friday 8th of August 2003
Petra Hamman

n Regverdige, effektiewe regering … good governance… kan seker in Afrika net ‘n droom bly.

Hoe lank nog sal politici op die reuse vasteland in die ogies van honger kinders kyk en vreesbevange, vlugtende vrouens met kinders op die heup gadeslaan.

Want die manlike regeerders moet mag en skatte versamel en in die proses heeltemal verdierlik.

Kindersoldate met AK 47 en dooie oë moet die moordwerk help doen. Kan die grote Afrika met sy nuwe strukture soos die AU en Nepad en ander dan geen voorbeeld van gesonde ontwikkeling neem nie? Demokrasie is die towerwoord wat gons van Kaap tot Kairo maar wie verstaan ‘n snars daarvan? Kan Afrika nie net ‘n bietjie oor die horison begin kyk en leer en sien dat daar ander ander metodes as wraak en woede is om mee te regeer

Die regeringstelsel wat deur die wêreld bewonder is en gerespekteer is, is die van die sosiaal demokratiese Arbeidersparty wat vir meer as 70 jaar in Swede die dominante party was in ‘n veelparty demokrasie. In daardie periode van sewe dekades is ‘n model sisteem van deelnemende demokratiese regering opgebou wat deur vele lande beny is. Die land het vooruitgegaan en sy mense was gelukkig en tevrede.

In Namibie is ons nie ver van verkiesings nie Volgens die ou uitgediende model moet daar "demokratiese" verkiesings plaasvind en "winner takes all". Of dit nou tot voordeel van die duisende armes en werkloses is, maak nie saak nie want sekere mense sal aan die roer van die skommelende ou skippie wees en daarby nog neffies die staatskoffer ook. ‘n Deel van die bevolking wat werklik in ‘n deelnemende demokrasie grootliks tot vooruitgang sou kon bydra met kundigheid en ervaring, word geensins gehoor of gesien nie. Hulle bly net gerieflike belastingmelkkoeie. Sou die belasting nog vir effektiewe regering en die welsyn van die volk wees, goed dan. Maar miljoene moet aangewend word vir die sin en smaak van die heersers wat vir die mens op die grondvlak nie brood of skuiling of geleerdheid beteken nie.

Die mense van Namibie is nie eens in staat om vir die ou uitgediende model ‘n opposisie op te bou nie. Inteendeel hulle vestig met wil en mening ‘n eenpartystaat. So reg na die beeld van sterwende Afrika. Dit sou ‘n redding van die ganse volk beteken indien die nuwe organisasie van die vooorheen bekende RP ‘n omkeer kon bewerkstellig en as die regering van die dag bereid sou wees om saam te werk aan ‘n deelnemende demokratiese bestel. Kan daar nie stemme uit Namibie opgaan wat ‘n omkeer in die lot van die kontinent kan bring nie?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia