Dis weer Oktober, die mooiste maand

Friday 10th of October 2003
Petra Hamman

Dis weer Oktober… Die mooiste , mooiste maand in Swakopmund! Vygies in kleure wat jou gevange hou en jy wonder net oor die wonderlike kleure hier in die woestyndorpie. Is die genot van kleur vrug op jou arbeid, het jy dit verdien om die spel van kleur hier in die sand van die woestyn te beleef?

Die inwoners van die dorp is vlytig en skeppend besig om hul eie klein paradys hier langs die strand te skep. ‘n Vertroostende lap groen gras lê soos ‘n tapyt hier langs die strand uitgesprei. Gewillige hande versorg dit om so vreugde van kleur te kan geniet. Goed versorgde plante floreer ‘n endjie verder in die tuin van die Maritim-woonstelbewonders wat sonder sug of klag net voortgaan om ‘n kleurryke vredesvlekkie vir die inwoners te skep waar hulle kan rustig stap of net die mooi geniet en in hul gedagtes wat saamgaan huistoe kan koester.

So bring die woestyngrond ook sy kant wanneer die mensehand uitgesteek word om die bodem te verwerk. Tog die skeppingsopdrag, nie waar nie? Wie sy arbeid en liefde vir die bodem gee sal beloon word. In Swakopmund is dit die wonder van pragtige tuine met kleurvlekkies wat die aldag die moeite werd maak.

Hier tussen die plante kom die voëls van die omgewing ook bymekaar en nog ‘n genotvolle prentjie is spierwit langnek voëls op die uitgestrekte lappe vygies met hul kleure.

Ook die stadsbestuur ondersteun hierdie pogings van die inwoners en half-gesuiwerde rioolwater word geredelik nou beskikbaar gestel vir die versorging van die kleurevreugde. Ook is hier aan die strand nou ‘n pragtige straat gebou en die besoeker kan gemaklik en stadig hierdeur ry met sy motor en die mooi geniet. Vir die wandelaar is daar ook die gerieflike voetpaadjie met vriendelike ligte om ‘n aandwandeling nog meer spesiaal te maak. Dis ook die paadjie waar die besoeker of die die inwoner ook Swakopmund se onge-ewenaarde sonsondergang kan gaan geniet.

Vir die ondersteuning van die ywerige tuiniers in die dorp het die munisipaliteit die uiters bekwame diens van ‘n kwekery daargestel waar plante wat hier goed aard teen die billikste pryse aangebied word. Die kwekery is in die laaste jaar verskuif en heelwat uitbreiding in die plante-aanbod het plaasgevind en daarbenewens kan die tuinier ook daarheen gaan vir kundige advies oor die behandeling en aankoop van sy plante.

Met al die pogings wat aangewend word en al die nuwe ontwikkelings wat in die dorp plaasvind, kand dit nie net die groeipunt van die land wees nie maar hoekom nie die tuindorp nie?

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia