![]() |
![]() |
|||||||||||||||||||
|
Thursday 6th of March 2003 Strandstraat word geteer. Berge sand word in Moses Garoebstraat ingery vir die werk . Dit gee ‘n vreemde beeld van die omgewing in die straat.. Huise word feitlik verdwerg agter die hope sand. ‘n Mens kan met die reuse aktiwiteit eintlik nie help om te dink aan die ontwikkeling van vervoer in die land met sy afstande en onherbergsame weg waarlangs die binneland bereik moes word om vrag te vervoer. Die ossewa was die enigste moontlikheid maar die trekdiere was uitgelewer aan dors en min voer. Baie het op die tog die binneland in gevrek. Na die groot reën in Swakopmund twee jaar gelede het ‘n mens eintlik verlang na die ou monster om die onbegaanbare Strandstraat aan te durf. Vir Eerste Luitenant Edmund Troost van die Schutztruppe was dit ‘n hartseer saak en hy het naarstiglik gesoek na ‘n meganiese oplossing. Op besoek aan Duitsland, in 1896, tref hy in Halberstadt by ‘n fabriek ‘n stoomlokomotief aan wat hy glo vir hom die alternatief gaan bied vir die vervoer. Hy vertrek per skip uit Hamburg met sy kosbare masjien aan boord.. Maar toe die boot in Swakopmund aanland, moes hy tot sy ontsteltenis vind dat die kosbare masjien nie afgelaai kan word nie en die skip vertrek met sy vrag na Walvisbaai. Daar staan die stoomenjin vier maande lank en die drywer wat Troost gehad het om die masjien van Walvisbaai na Swakopmund toe te bring, was ook nie meer daar nie. Hy kry iemand wat net die masjien oor die ergste dele kon bring tussen die twee dorpe.’n Nuwe drywer neem oor maar die masjien val so elke 50 meter vas in die sand en dan moet hy uitgegrawe word. ‘n Groot probleem was die water wat benodig is vir die stoomenjin en wat van 30 km ver aangery moes word teen 30 mark vir 1000 liter van die kosbare vog. Troost het nie opgegee nie en na drie maande is die taak vervul. Nog probleme moes oorkom word want hullle het nie oor genoegsame kennis of die onderdele beskik om die masjien aan die gang te hou nie. Hoe dit ookal sy, die "stoomos" het daarin geslaag om ‘n hele paar ritte na Nonidas te onderneem met sy drie sleepwaens. In totaal het hy 30,000 pond vrag vervoer. Toe die inboorlinge egter die monster vir die eerste keer aanskou het, het hulle vreesbevange in alle rigtings gevlug. Eers nadat die drywer verduidelik het dat dit ‘n groot "stoomos" is wat vrag vervoer, het hulle met respek op ‘n afstand die monster bewonder. In 1897 was Troost genoodsaak om sy vervoerprojek te laat vaar. By ‘n uitbundige partytjie by die Bismarck het Dr. Max Rhode glo aan die gaste gesê: "Het julle geweet die stoomos word nou Martin Luther genoem want hy kan ook sê: Hier staan ek, ek kan nie anders nie" Troost se droom om te ontwikkel het miskien ‘n humoristiese einde gesien maar die simbool van Martin Luther (die stoomos) sal altyd aan die mooi droom herinner. |
|||||||||||||||||||
![]() |
Plus online by Plus Weekly |
![]() |
||||||||||||||||||





