Geslaagde Seisoen in Swakop

Saturday 24th of January 2004
Petra Hamman

Afgesien van haakplekke tussen klant en diensverskaffers oor die seisoen , glimlag die meeeste ondernemings breed in Swakopmund oor die goeie seisoen wat hulle beleef het. Die meeste sakelui was bereid om dit as ‘n geslaagde seisoen te beskryf waar hulle oor ‘n breë spektrum van musiek tot kampeertoerusting goeie verkope gehad het. Selfs klerewinkels was tevrede en in hul skik met wat hulle as ‘n goeie seisoen bestempel het.Ackermans was selfs bereid om dit die beste seisoen in tien jaar te noem

Vir sakemense het dit soms broekskeur gegaan om voorrade betyds aan te vul om klante gelukkig te hou.

Brandstofverkope was besonder goed en vulstasies het ook die voordeel getrek uit die feit dat hulle ook hout en ys aangebied het en ook lang diensure gehad het. Bier en sigarette het seker die prys gewen vir die grootste verkope saam met die ys en die hout.

Motordiens was ook baie besig en moes ook soms mense in die nood op die pad gaan help waar ‘n motor onklaar geraak het. Werktuigkudiges was dit eens dat Swakop wel gerat is om om te sien na besoekers se motorprobleme

Slaghuise het ook ‘n lewendige seisoen gehad want die braaivleisvure en potjiekos was oral aan die gang, tuis sowel as by die viswaters. Wat vermaak vir die gaste betref was daar weer heelwat soos die Rokkonsert by Nonidas, met Karen Zoid, Valiant Swart en Piet Botha as kunstenaars, die rare spektakel by Sekelduin waar Mondoza elke nugter mens vaal geskok het met vulgêre seks wat oor die mikrofoon geblêr het. Die kwota onder-die-invloeders was daar beslis maar die tragiese is die groot getal jong kinders van twaalf jaar af wat hulle skuldig gemaak het Moet die Nuwejaarsviering dan aan die land wys hoe die jong geslag, die leiers van more daar uitsien?

Die munisipaliteit verdien ‘n besondere veertjie in die hoed vir die netheid van die dorp. Baie gewillige hande het vroeg soggens gevee en skoongemaak. Ook langs die strand en die wandelpad langs Strandstraat was in puik toestand. Daar word wel nog gewerk aan die strandgebied hier langs Strandstraat en daar is heelwat opgeruim en baie nuwe bome en struike geplant. Ruwe rotstuine is besig om vorm aan te neem wat ‘n aangename omgewing bied vir diegene wat graag hier gaan stap of draf.

Dis duidelik dat die munisipaliteit geen moeite ontsien het om vir die besoekers die omgewing so aangenaam en aantreklik as moontlik te maak nie. Veral besoekers uit RSA was soms verstom oor die skoon Swakopmund want baie dele van daardie land kan nie meer met so ‘n omgewing soos Swakopmund spog nie.

Parkeerplek in Swakopmund bly egter nog ‘n groot kopseer en vir die nabye toekoms is daar nog nie ‘n werkbare oplossing vir die knelpunt nie

Die land kan egter terugkyk op ‘n geslaagde seisoen met goeie vooruitsigte ook vir die toekoms

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia