Gebruik hierdie Kans!!

Saturday 14th of February 2004
Petra Hamman

Plaaslike owerhede staan kort voor algemene verkiesings. Hierdie is die geleentheid waar elke verantwoordelike burger en inwonder van ‘n munisipale gebied kan meehelp om ‘n verskil te maak aan die toekomstige bedeling en om ‘n rol te speel om sinvolle bestuur te help vestig.

Volgens berigte sal verkiesings in die eerste helfte van Mei plaasvind. Stemgeregtigdes wat nie geregistreer is nie behoort kennis te neem daarvan indien daar weer ‘n registrasieveldtog plaasvind voor die verkiesing.

Dis opmerklik en eintlik betreurenswaardig dat veral blanke kiesers hul pligte in die verband skandelik versuim en met ‘n lui skouerophaling en die uitdrukking: ek stel tog nie belang nie" alle burgerlike pligte van hulle afskuif en in plaas van daadwerklik deelneem en iets vermag net kla.

Die Residents Association bied aan almal die geleentheid om in hul dorp aan die verkiesing deel te neem en ook ‘n raadslid of meer in die raad te kan instem wat ‘n baie groot verskil aan die bestuur van die dorp kan maak.

Die Residents Association is die liggaam wat vir sy dorp verant-woordelik is en in noue skakeling met die Raad saamwerk rakende sake van die dorp wat die belastingbetalers aangaan. Hoe meer lede hulle in die Raad het, hoe sterker kan daardie Raad in belang van sy kiesers optree. Hulle is nie ‘n politieke party met ‘n politburo wat verskeie agendas met hul optrede in die dorp het nie. ‘n Munisipaliteit behoort sonder twyfel op sakegrondslag bestuur te word. Sy belastingbetalers (inwoners) is sy aandeelhouers en hulle behoort diwidende op hul belegging te kry in die vorm van kundige finansiële bestuur, betroubare dienste en ‘n sindelike stad.

Die geraamtes van dorpsbesture lê verstrooi oor die land as gevolg van korrupsie en gebrek aan bestuur. Die tyd om hierdie wantoestande reg te maak is nou en daarvoor is daar die geleentheid om te stem en te sorg dat die leefbare toestande in die munisipaliteite gehandhaaf word.

Onkundige en korrupte bestuur van die stad se geld is ‘n ernstige vergryp teen die belastingbetalers se menseregte. Onverdiende vergoedings aan amptenare wat nie oor die werklike vaardighede beskik nie of geld verspil buite die bestek van die begroting of nie omsien na die veiligheid en gesondheid nie pleeg ernstige vergrype teen die inwoners van die dorp. Sodanige oortredings kan alleen reggestel word by die stembus en om in alle verantwoordelikheid te sorg dat die mense aan wie verantwoordelikhede opgedra word, in staat is daartoe en dat hulle egte etiese waardes handhaaf.

Dit is dus de plig van elke burger en inwoner van ‘n munisipaliteit om sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap na te kom en te gaan stem.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia