Mel Gibson se "Passion"

Saturday 6th of March 2004
Petra Hamman

The Passion of Christ, Mel Gibson se kontroversiële rolprent oor die lyding en sterwe van Christus het mense wakker gemaak. Ten spyte van die gru-tonele van marteling en pyn en bloed , kan dit ook wees dat die Christen in hierdie kubervaart van ons tyd tot stilstand en selfondersoek en nadenke gelei word.

Heel vooraan is weer die anti-Joodse tamboer geslaan. Natuurlik sou die groepe sterk beswaar maak as hulle weer uitgesonder word veral as die woorde uit Mat 27 : 25 Laat Sy bloed oor ons en ons kinders wees, aangevoer word.

Gibson is egter in Amerika bekend daarvoor dat hy diep gelowig is en hy sê dan ook dat dit vir die gelowige ook bekend is dat hy hom soms teen ‘n muur vasloop en dat dit met veel pyn gepaard gaan.

So het hy self deur ‘n tyd gegaan waar hy selfs aan selfmoord gedink het toe hy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. Maar met die ondersteuning van sy gesin, sy geloof en alkoholiste anoniem het hy sy lewe in oënskou geneem en opgehou drink en sy lewe verander. Hy skryf die wonder toe aan sy geloof wat hom gelei het.

Gibson het geweet dat hy met die tema en sy voorstelling daarvan die pyle uit die hel sou moes verduur maar sy oortuiging was so sterk dat hy tot dusver die kritiek en kanonkoeëls van die aanvalle kon weerstaan.

Die rolprent begin waar Jesus vol vrees in die tuin ven Getsemane bid dat die beker by hom verby moet gaan

As Pontius Pilatus geen skuld in die man kan vind nie, dan dring Kajafas die hoëpriester aan dat Hy gekruisig moet word. Hy word gegesel en bespot en die toneel verskuif na Golgotha waar die gruwelike geweld van die kruisiging plaasvind en reeds toeskouers uit die saal laat loop het of ander in trane laat uitbars het.

In die kategese het die kinders geleer van die vreugdevolle boodskap dat Jesus se dood aan die kruis vir die gelowiges verlossing beteken. In die toneel aan die kruis was daar geen sweem van vreugde nie. Mense het met strak gesigte die teater verlaat

Die gru-tonele het aanleiding daartoe gegee dat soos sommiges beweer dit sal veroorsaak dat anti-Semitisme weer hoogty vier .

Maar gelowiges sê dat die geweld kom nie naby emosionele en gelowige lyding wat Christus moes deurmaak nie.

Dat die hele stuk gemik is teen die Jode is vergesog. Die Rapport, Sondagkoerant van die RSA meen egter dat Mel Gibson met sy rolprent die hart van die Christelike geloof tref. Dalk is dit vir die Christen wel van waarde om te besef dat Jesus nie gestuur was om ‘n voorbeeld te wees nie maar om deur marteling die hoogste geloofsoffer te bring.

Dat dit beslis vir die Christen ‘n nuwe belewenis van sy geloof sal bring as hy die rolprent sien, is seker.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia