Dis Tyd vir 'n nuwe Gelofte

Friday 12th of March 2004
Petra Hamman

Elke jaar, in die eerte week van Maart dan staan ons stil by die internasionale biddag vir vroue. ‘n Mooi geleentheid vir jong vroutjies in pienk rokkies met hul foto’s in die koerant.

Wat sê die dag eintlik vir die ge-meenskap, en hoor die gemeenskap eintlik die boodskap? Is die dag ook bedoel vir die moeder om haar te bemagtig om haar dogter in moeder-skap op te voed?

Baie vrae ontstaan rondom die dag. Maar wat nou van die vaders van ons gemeenskap? Is die kommersiële Vadersdag waar die gesin winkel toe haas om ‘n das of ‘n paar sakdoeke te gaan koop die dag vir die vader?

Of het dit nie tyd geword dat ons ernstig besin oor die feit of daar nie in ons program of op ons kalender ‘n dag ingeruim moet word waar die vaders weer bewus gemaak kan word van die feit dat vaderskap eintlik ‘n vennootskap met die Skepper is om sy seuns in blywende christelike waardes op te voed nie? Dat daar meer as 4 x 4 in die lewe bestaan?

Ons lewe in ‘n tyd waar die huisgesin aan flarde geskeur word, huishoudelike geweld neem by die dag toe, hetsy fisiese of mondelinge geweld. Vroue en kinders word mishandel. Die heilige band tussen man en vrou in die huwelik geld nie meer nie. Daar is "trial’ huwelike, maar wees verseker vaders, daar kan nie "trial"-seuns wees nie .Die opvoeding van die seun kan vandag nie aan die skool oorgelaat word of aan die rugbybreier nie, of sommer net in die skoot van die moeder gegooi word nie.

In die geskiedenis van die "Afrikaner" is daar die Gelofte wat ‘n handvol vaders namens die volk by Bloedrivier afgelê het. Hulle sou as God hulle genadig sou wees in hul nood, die dag as Sabbat heilig, hulle sou die kennis van die reddened genade van God aan hulle kinders se kinders oordra.

In Swakopmund staan voor die N G Kerk ‘n statige herdenkingsmuurtje om die volk aan die Gelofte van 16 Desember 1838 te herinner. Dit het tyd geword om weer na die eerbare muurtjie te kyk. Dit het tyd geword om vir die vaders te vra hoeveel van hulle het in die afgelope tien jaar die gewyde muurtjie met sy ernstige woorde daarop raakgesien? Dalk met Boetie daaroor gepraat?

Dis tyd dat die muurtjie plek maak vir ‘n nuwe gelofte wat die vaders van ons tyd aflê, naamlik dat hulle plegtig sal belowe om 16 Desember as ‘n dag van die vaders te eer en voor God te onderneem om hul seuns in christelike waardes en liefde op te voed. Dat dit hul lewenstaak sal word

Laat 16 Desember voortaan bekend staan as die dag van die vaders wat hulle op die dag in die gees van die Gelofte van 1838 verootmoedig om leiding te vind by hul Skepper vir hul opvoedingstaak Die vaders kan maar vanaand begin deur die boek Spreuke (klassieke opvoedkunde-handboek) Beskikbaar in die Bybel , Ou Testament, te lees. Die vroue sal sonder twyfel hul troue metgeselle wees.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia