Swakopmund Sakekamer nie Ontbind nie

Friday 30th of July 2004
Petra Hamman

Swakopmund se Sakekamer, die oudste in die land, gestig in 1926 het die week op ‘n buitengewone ledevergadering besluit om nie die Sakekamer te ontbind nie maar wel vir nog ‘n jaar dormant te maak.

Onder die bekwame leiding van mev G von Flotow, die voorsitster het die vergadering plaasgevind en op die agenda was die vraag of die liggaam moet ontbind en sy lede aanbeveel word om by die NCCI aan te sluit.

Die vraag by die Sakekamer lę daarin dat daar nie sekerheid is oor die projekte van die NCCI en watter voordeel die sakelui in die dorp daaruit trek. Daar is nog onopgeloste vrae in die verband en hopelik sal dit in die jaar wat voorlę uitgeklaar kan word. Die NCCI is die regeringsondersteunde sakekamer v ir die land en die Swakopmundse Sakekamer is die liggaam wat plaaslik ten bate van die sakelui funksioneer. Ook die ledegeld van die Swakopmund Sakekamer gaan vir plaaslike ondernemings.

Daar is tans heelwat sake wat veral ten opsigte van toerisme aangespreek moet word waar die plaaslike sake daardeur geraak word. Veral die vervoer van gaste wat aan boord van luukse passasierskepe in die Walvisbaaise hawe aankom en beperkte tyd tot hul beskikking het en waarby die sake in Swakopmund heelwat baat vind sou hulle die dorp besoek, moet gehanteer word.. Daar is tans nie geordende prosedure waarvolgens die mense van die skepe af vervoer kan word nie en veilig en professioneel na Swakopmund gebring word nie. In die onlangse verlede het hierdie vervoerkwessie aanleiding tot groot onmin by gaste sowel as sakelui veroorsaak.

Swakopmund is veral afhanklik van toerisme en dit moet ordelik in al die fasette bestuur word sodat die gemeenskap die beste voordeel daaruit trek. Hierdie en nog vele aangeleenthede soos die informele handel op nie-toelaatbare plekke nie, is sake wat aandag verg. Die sakegemeenskap in Swakopmund het wel behoefte aan ‘n mondstuk wat vir hulle uitsluitlike belange daar is.

back
 

Plus online by Plus Weekly
Publisher: Feddersen Publications cc.
email : info@namibiaplus.com
Tel: +264 (0)61 233635
Fax: +264 (0)61 230478
P.O.Box 21506
Windhoek
Namibia